GAUM, LOUIS LAURENS BOTHA (LAURIE)

GAUM, LOUIS LAURENS BOTHA (LAURIE) (1971-) het aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad in die teologie studeer en in 1997 met sy bediening in Gugulethu, Kaapstad, begin. Hy het geslaag in sy appelaansoek teen die NG Kerk* se besluit om hom vanwee sy selfdegeslagverhouding as predikant te skors, en sy bevoegdheid as predikant is herstel. Hy het ‘n dekade lank as projekbestuurder by die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit (SCS) gewerk – ‘n geloofgebaseerde organisasie in Kaapstad wat in 1976 op inisiatief van onder meer emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu* gestig is. Hy is saam met sy pa die medeskrywer van ‘n tussen-generasies-gespreksboek, “Praat verby grense” (Umuzi, 2010), en was ook die mederedakteur van ‘n feesboek oor die SCS, “Silence and Solidarity” (Barnabas-uitgewers, 2017). Hy fasiliteer werkswinkels wat verband hou met geslagsversoening, manlikheid, spiritualiteit en seksualiteit, en het ‘n beurs ontvang om in die 2017/18-akademiese jaar ‘n internasionale vredesprogram aan die Hartford-seminarium, Connecticut, te volg wat hy suksesvol voltooi het. Gaum was in 2018 een van twaalf lidmate van die NG Kerk wat by die Gautengse Hooggeregshof aansoek gedoen het vir die tersydestelling van die negatiewe besluit wat die Buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk in 2016 oor selfdegeslagverhoudings geneem het. (Daily Maverick, 2 Augustus 2018).

 

Sidebar