GAWES VAN DIE GEES

GAWES VAN DIE GEES sluit alle gawes in wat God aan indiwidue skenk en wat tot opbou van die hele kerk* aangewend moet word. Reeds in die Ou Testament* is die Gees* betrokke by ’n wye verskeidenheid mense soos Simson*, Saul*, Miga*, Esegiël* (Rig 14:6, 19; 1 Sam 10:10; Miga 3:8; Eseg 1:2) en Besaleël se toerusting met spesiale vermoëns (Eks 35:30-31). Maar die Gees se gawes word veral verbind met die Messiaanse tydperk (Kyk by: Messianisme) wanneer die Gees op God se Gesalfde* sal kom rus (Jes 11:2). In die Nuwe Testament* word die Gees se teenwoordigheid ten nouste verbind met Jesus* se doop* en bediening (Matt 3:16; Luk 4:18-19; Hand 10:38), en is tiperend van die nuwe bedeling ná Pinkster* waar die kerk se ontstaan gepaard gegaan het met apostoliese tekens (Kyk by: Apostel) van mag* as tekens van die Messiaanse tydperk wat aangebreek het met Jesus se verheerliking en die Heilige Gees se uitstorting (Hand 2:4, 14-36). Die Gees se gawes konkretiseer die eerste gelowiges* se belewenis van die Gees se teenwoordigheid in hulle lewe.

In die Nuwe Testament word twee terme vir gawes van die Gees gebruik, pneumatika (1 Kor 12:1; 14:1) en charismata* (1 Kor 12:4; 1 Pet 4:10). Volgens 1 Kor 12:1-11 het die manifestering van geestesgawes probleme in die Korintiese gemeentes veroorsaak. Die pneumatika, waarskynlik die woord waarmee die Korintiërs by Paulus* navraag gedoen het, verwys na geestesgawes tydens openbare aanbidding (Kyk by: Glossolalie), maar Paulus plaas dit binne die breër konteks van charismata wat alle manifestasies van God se mag insluit, hoe dit ook al ui­ting vind. Aangesien die Gees die gawe skenk, elimineer dit menslike aanspraak en definieer Paulus diensbaarheid aan die kerk en ordelikheid (eerder as ’n fokus op die buitengewone en paranormale) as kriteria vir geestesgawes en korrigeer hy so die Korintiërs se waarde-oordele.

Sidebar