GEBED OM DIE VAL VAN REGE­RINGS

GEBED OM DIE VAL VAN REGE­RINGS. In 1985 het dr Allan Boesak* en ander kerkleiers ’n pleidooi gelewer dat Christene* bid vir die val van die apartheid*­regering in Suid-Afrika. Hierdie pleidooi was teologies gemotiveer, soos blyk uit die boekie, When prayer makes news, waarvan Boesak en Charles Villa-Vicencio* die redakteurs is.

Dit het eerstens berus op die oortuiging dat Christene die verantwoordelikheid het om te protesteer teen regerings en magte wat die menswaardigheid van mense skend. ’n Tweede oortuiging is dat die By­bel* ruimte maak vir gebed* as vorm van protes. Habakuk* se gebed en die gebed in Ps 73 is twee Bybelse voorbeelde van protesgebede. Die Latynse pro testari, waarop ons woord “protes” gebaseer is, beteken letterlik om te getuig (testify) vir ’n bepaalde saak. In hulle protes getuig Christene positief van God wat mens geword het in Jesus Christus*, en wat alle mense hoog ag. Juis in die lig van hierdie positiewe belydenis, beteken protes ook dat Christene teen die aantasting van menseregte* moet protesteer. Omdat God die God van menswaardigheid is, het Christene in apartheid-Suid-Afrika geprotesteer deur te bid vir die val van ’n regering wat God oneer aangedoen het deur mense onmenslik te behandel.

Leiers soos Boesak het gewelddadige verset teen apartheid teengestaan. Protesge­bede was een van die nie-gewelddadige vorms van protes teen apartheid. ’n Mens sou kon oordeel dat die verrassende vreedsame politieke oorgang van apartheid na inklusiewe demokrasie, God se antwoord op hierdie protesgebede was. Soos die val van die Berlynse muur en die ineenstorting van onderdrukkende Oos-Europese kom­mu­nis­tiese* regerings ook deur baie mense gesien word as die verhoring van gebede.

 

Sidebar