GEBOD

GEBOD is dit wat met gesag beveel is en dus formele/uitwendige gehoorsaamheid* vra. God se gebod of wet* is een van die grondpilare waarop die Joodse godsdiens* gebou is. In Ou Israel* se geskiedenis was die formele, uitwendige nakom van die gebod primêr. Die Jode* het selfs so ver gegaan om, waar duidelike gebooie van die Here* ontbreek, nuwe reëls te formuleer om die unieke karakter van God se volk te beskerm, en dan streng te let op die nakoming daarvan. Reeds die profete* het egter gemaan dat dit eerder die hart* moet wees wat besny* moet wees as die liggaam (Deut 10:16, 30:6; Jer 4:4, 14; 12:2).

In die Nuwe Testament* het Christus* die outoritatiewe karakter van die gebod verander. Omdat Hyself, in die plek van ander, volledig aan die eise van die wet voldoen het (Matt 5:17), het Hy dit moontlik gemaak dat diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe, eerder beheer word deur ’n wet van die hart (vgl Heb 8:10-13; 10:16-18). Alhoewel uitwendige gehoorsaamheid nog betekenis het, is dit veral die gesindheid van ware liefde* in die hart wat sy gebod wil nakom, wat nou belangrik is. Daarom kan Hy sy gebod saamvat in twee hoofgebooie: liefde tot God en liefde tot die naaste* (Matt 22:37-40; Mark 12:29-31). Dit kan selfs net in een woord saamgevat word: liefde (Joh 15:12: “Dit is my gebod dat julle mekaar moet liefhê”).

Sidebar