GEDULD / LANKMOEDIGHEID

GEDULD / LANKMOEDIGHEID is twee van die betekenismoontlikhede van die Griekse* woord hupomone wat ook ander betekenismoontlikhede het, soos lydsaamheid, verdraagsaamheid, volhar­ding en standvastigheid. Volgens die Ou Testament* wag die regverdige geduldig op God vir redding; volgens die Nuwe Testament* wag die gelowige geduldig op die wederkoms* van Christus*. Dit geskied nie in passiwiteit nie, maar met aktiewe betrokkenheid, toe­wyding en in hoop*. Omstandighede van lyding* vra lankmoedigheid. Dit weerspieël ook die gesindheid van en gemeenskap met Christus se lyding. Volgens Eks 34:6 is lankmoedigheid ’n “deug” van God. Hy stel soms sy toorn oor die sonde* uit om die sondaar ’n kans tot bekering* te gee, soos in die verhaal van Jona*. God se toorn word egter nie opgehef nie, maar kom tot volle openbaring by die laaste oordeel*. Dan verskaf Hy reg aan hulle wat lankmoedigheid beoefen het, maar ontvlam sy toorn oor hulle wat sy lankmoedigheid uitgedaag het. Omdat God lankmoedig met ons is, moet ons ook lankmoedigheid aan die naas­te* bewys. Die beoefening daarvan ver­eis selfverloëning, selfopoffering en ver­draag­saamheid*. Ons sondige neigings kom tot uitdrukking in onverdraag­saamheid, vyandskap, woede, rusie, ens.  Daarteenoor staan lankmoedigheid as vrug van die Gees*.

Sidebar