GEES (GOD)

GEES (GOD). Die derde Persoon van die Drie-eenheid* van God wat saam met die Vader* en die Seun* aanbid en verheerlik moet word. Die Konsilie* van Konstantinopel (381) het reeds die dogma* vasgelê dat die Gees waaragtig God is en dat die Drie-eenheid nie net ’n kwessie is van hoe God Homself openbaar nie, maar wel ook hoe God is (2 Kor 3:17). Tog is dit die eksterne handelinge van God (“ekonomiese Triniteit”) wat vandag eerder op die voorgrond is. Gees (Grieks: pneuma en Hebreeus: ruach) is die onsigbare werking van God in die skepping. Die Gees word dus nie eng verstaan as net teenwoordig in mense nie. Die Gees is God wat potensialiteit in aktualiteit om­skep. Pneumatologie* is daarom werklikheidsverstaan. Die Gees manifesteer in verskillende aksies (roep, belowe, troos, beveel ens), in verskillende gestaltes (Skepper, Verlosser en Trooster), in verskillende mense (apostels*, profete*, mans, vroue* en kinders) en in verskillende kerke* en gemeenskappe. Daar is ook ’n verskeidenheid van genadegawes* wat die Gees aan die kinders van God gee. Dit is alleen deur die Gees dat iemand kan sê: “Jesus* is die Here*” (1 Kor 12:3) en dit is dieselfde Gees wat ontvang word wanneer iemand tot geloof* kom (Hand 19:2).

(Kyk ook by: Heilige Gees.)

Vir verdere lees: GDJ Dingemans 2000. De stem van de Roepende. Kampen: Kok. M Welker 1994. God the Spirit. Minneapolis: Fortress Press.

Sidebar