GEESINK, GERHARD HERMAN JOHANNES WILHELM JACOBUS

GEESINK, GERHARD HERMAN JOHANNES WILHELM JACOBUS (1854–1929) sluit op twintigjarige ouderdom vanuit die Lutherse* by die Neder­andse Hervormde Kerk aan. Hy studeer in Amsterdam en Utrecht, waar hy in 1879 by laasgenoemde universiteit doktoreer met ’n proefskrif oor Gerard Zerbolt van Zutfen. Hy begin as etiese teoloog/predikant, word later ’n oortuigde Calvinis* en sluit in 1886 by die Doleansie* aan. In 1890 begin sy 36-jarelange hoogleraarswerk aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam, aanvanklik in etiek* en elenktiek, maar later ook in ander vakke. Rondom 1901 volg hy Abraham Kuyper* op as redakteur van De Heraut en skryf hy talle artikels (in opdrag van Kuyper) oor Van’s Heeren Ordinantiën, wat in 1907 en 1908 in vier boekdele uitgegee word. In die inleidende boek handel hy onder andere oor Goddelike almag en menslike verantwoordelikheid, Calvinisme, fatalisme*, kasualisme; skepping* en evolusie*. In die tweede deel gaan dit oor die Goddelike ordinansies in die natuur. Dele drie en vier bevat ’n uitgebreide behandeling van die Tien Gebooie*. Vir ’n gereformeerde* Christen geld volgens Geesink die groot sedelike norm: God is soewerein en sy ordinansies en wilsbepa­ling geld orals en vir almal.

Geesink se ander bekende werk is sy Gereformeerde Ethiek I en II, postuum bewerk en uitgegee deur V Hepp (1931/ 1932). Deel 1 bevat, naas ’n lewensbeskrywing deur Hepp, ook stof oor voorvrae in die etiek, indiwiduele etiek en ’n uitgebreide bespreking van die Tien Gebooie. Deel 2 behandel sosiale etiek (waaronder huwe­lik*, maatskappy/ekonomie, staat*, kerk* en eskatologie*).

Hierdie studies van Geesink het ’n groot invloed op die gereformeerde lewenspraktyk in Nederland uitgeoefen, gestimuleer deur sy sonderlinge kombinasie van vroom­heid, geleerdheid en humor.

 

Sidebar