GEESTIGHEID

GEESTIGHEID kan omskryf word as “die hoedanigheid van geestig te wees: met vernuf, ’n ratse dinkvermoë, wat van ’n lewen­dige gees getuig” (HAT, 2005). Sodanige geestighede kom op alle vlakke van die samelewing voor, ook onder Christene*, ook onder Afrikaanse gereformeerdes*. Daar is die skertsende tradisionele onderskeiding tussen NG lidmate, die sogenaamde “Ga­tjie­ponners” vanweë die destydse gat-ja­pon­ne of manelle, en die Gereformeerde “Dop­pers” en Hervormde “Stoepsitters”. Predi­kante* was in die verlede vanweë hulle opleiding en spreekvermoë die plaaslike kerk- en onderwys- en kultuurleiers. Die dominees en mevroue dominees het gevolglik dikwels letterlik en figuurlik ge-dominee-r (“dominee” is afgelei van die Latynse dominus, heer) … Of die lui van die kerkklokke: die Doppers s’n lui swaar: “Kom, sondaars, kom; kom, sondaars, kom …”, die NG’s s’n ligter: “En Gee, En Gee, En Gee, En Gee …”, die Sendingkerk s’n die ligste: “Te min, Te min, Te min …”

’n Ander kategorie geestighede is op die waarheid gebaseer en het dikwels vroeë geslagte se gebondenheid aan die Woord* weerspieël. Dis ook eers by nabetragting geestig, dit was destyds doodernstig bedoel. So bv met die naam Nylstroom wat deur die sogenaamde Jerusalem­*gan­gers – ’n groepie toegewyde Voortrek­kers* onderweg na die Beloofde Land – aan dié plek gegee is vanweë die sterk noord­waarts­bewegende stroom water wat hulle in die betrokke omgewing ná oorvloedige reëns teëgekom het. Met hulle goeie kennis van die Bybel*, maar oppervlakkige kennis van die geografie, was hulle van oordeel dat hulle reeds die suidelike oorsprong van die Nylrivier op hulle lang pad na Palestina* bereik het.

Daar is ook die verhaal van ’n ontstelde boer wat met die verskyning van die eerste Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 uitgeroep het dat as Hooghollands goed genoeg was vir Adam* en Eva*, dit ook vir hóm geld. En die Griekwakaptein, Adam Kok III, sou by geleentheid voor ’n militêre optrede teen sy mense gebid het dat die probleem so groot is dat dit nie sou help as God sy Seun stuur nie – Hy moes asseblief sélf kom help.

Vroeg in die apartheidsera* was daar glo die minder geestige, baie tragiese geval van die knorrige gemeentelid wat op ’n weeksdag vir ’n knielende swartman in die kerk sou gevra het wat hy daar doen. Die swartman se antwoord was dat hy net die vloere politoer, waarop die man gerusgestel sou geantwoord het dat dit goed só is, solank hy net nie bid nie … Die tradisionele biddae vir reën het aanleiding gegee tot verskeie geestighede soos toe die oorvloedige reëns ná so ’n biddag vir een oom so erg was “… dat die Here ons nou weer morsdood seën”. Of die biduurganger wat gemeen het hulle kan maar bid vir reën, maar wat hy weet is dat die wind wes waai en dit sê vir hom dit gaan nie reën nie.

Sidebar