GEHOORSAAMHEID

GEHOORSAAMHEID is ’n sentrale be­grip in die Christelike tradisie* – ten eerste om God se wil (Kyk by: Wil van God) te gehoorsaam. Die He­breeuse* uitdrukking in die Ou Testament* wat dikwels met “gehoorsaam” vertaal word, is sjama b’qol, om “die stem te hoor”. In die Ou Testament word Israel* opgeroep om na God te luister, soos uitgedruk in Deut 6:4 (“Luister, Israel, die Here* is ons God …”), wat in die Joodse tradisie die sj’ma genoem word. In die Nuwe Testament* is Jesus* die vervulling en voorbeeld van gehoorsaamheid (Rom 5:18-22). Hy “was gehoorsaam tot in die dood*, ja, die dood aan die kruis*” (Fil 2:8). Jesus “het deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaam­heid is” (Heb 5:8). Daarom word Christene* opgeroep tot gehoorsaamheid. Die moeilike vraag (met verskillende antwoorde) is: Hoe word God se wil geken? Wat moet gehoorsaam word: Is dit reëls soos ons dit in die Bybel* vind (bv die Tien Gebooie*), algemene Bybelse riglyne (bv liefde*) of die gelowige* se gewete*? ’n Tweede vraag (met verskillende antwoorde in die Christelike tradisie) is: In watter mate moet menslike gesag, as verteenwoordiger van Goddelike gesag, gehoorsaam word? Die algemene riglyn is dat sowel in die Ou Testament (bv by die profete*) as in die Nuwe Testament die grense van gehoorsaamheid aan menslike gesag beklemtoon word.

Vir verdere lees: A Bondolfi en DL Stubbs 2003. “Obedience” in: The Encylopedia of Christianity, deel 3. Grand Rapids, Leiden: Eerdmans, Brill.

Sidebar