GELDENHUYS, FRANCIS EDWARD O’BRIEN (FRANS)

GELDENHUYS, FRANCIS EDWARD O’BRIEN (FRANS) (1914–1985). Tydens die Johannes du Plessis*-saak maak Gelden­huys as Stellenbosse student die eerste keer kennis met die botsende stromings in die destydse NG Kerk*. Hy voltooi sy teologiese en regstudies gelyktydig en sou later ’n doktorsgraad in die Regte verwerf. Hy word lid van die Afrikaner-Broederbond* (AB), waarvan sy skoonpa (Beyers Naudé* se pa) ’n stigterslid was. Hy dien in verskeie gemeentes en word, vanweë sy regskennis, aktuarius* van verskillende sinodes. Deuren­tyd is hy ’n gematigde stem in die NG Kerk. Hy woon in 1960 die Cottesloe-kerkebe­raad* by, en, geskok deur die politieke en kerklike reaksie wat op die beraad volg, bedank Geldenhuys in 1962 uit die AB. Sy swaer Beyers Naudé bedank in dié tyd as predikant* van Aasvoëlkop-gemeente om die Christelike Instituut* te stig, maar Geldenhuys kies om binne kerkstrukture vir eenheid en ekumeniese kontak te werk. Hy was 18 jaar lank moderator* van die Noord-Transvaalse sinode en agt jaar die aktuarius van die Algemene Sinode. In 1978 word hy die direkteur van ekumeniese* sake van die NG Kerk. Hy bedank ná drie jaar uit hierdie pos – ontnugter oor die manier waarop die NG Kerk geheime staatsgeld gebruik het vir die finansiering van dié pos en vanweë botsings met die destydse kerk­leiding. Geldenhuys het ook bedenkings gehad oor die amptelike NG Kerk se voortgesette steun vir apartheid* en ignorering van die internasionale ekumeniese stem daartéén. Hy sien met hartseer hoe die NG Kerk se ekumeniese pad in die binne- en buiteland in die laat 1970’s en vroeë 1980’s al hoe meer doodloop. Hy sterf as teleur­gestelde mens in 1985 sonder dat hy meer sigbare tekens gesien het van sy ideaal vir groter eenheid in die NG Kerkfamilie.

Vir verdere lees: FE O’Brien Geldenhuys 1982. In die stroomversnellings: Vyftig jaar van die NG Kerk. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar