GELDENHUYS, NORVAL

GELDENHUYS, NORVAL (1918–1964), was ’n predikant en teoloog van die NG Kerk* wat ’n beduidende bydrae tot die kerklike uitgewersbedryf in Suid-Afrika gelewer het tot sy dood op 22 Julie 1964 toe hy maar 46 was. Hy is ná sy teologiese stu­dies aan die Universiteit van Pretoria in 1943 tot predikant gelegitimeer en het daar­na aan die Princeton Theological Se­mi­nary in Amerika studeer. Hy is in 1947 aangestel as sekretaris vir publikasies van die Christen-Studentevereniging* (CSV). In 1948 het hy predikant van Naboomspruit geword voordat hy in 1949 aangestel is as publikasie­hoof van die destydse NG Kerk-Uitgewers. In 1963 word hy algemene sekretaris van dié uitgewery en dien ook as direkteur van die Verenigde Protestantse Uitgewers. Hy skryf verskeie boeke, waaronder Huwelik, man en vrou in 1942; Liedere wat lewe in 1951; Die Christen en politiek in 1948; Die Kommunistiese aanslag op die kerk in 1948. Hy was redakteur van die be­kende Verklarende Bybel, een van die vroeë po­gings tot verantwoordelike Bybeluitleg in Afrikaans. Hy het ook die destyds be­kende Christelike blad Naweekpos gestig en was die besturende direkteur daarvan. Hy het internasionaal bekend geword vir sy kommentaar op die Lukas*-Evangelie. Hy was ook vir ’n tyd dosent by Princeton en Cambridge.

Sidebar