GELOFTEDAG

GELOFTEDAG is aanvanklik “Wendag” en “Dingaansdag” genoem. Die aanloop tot en die Slag van Bloedrivier self op 16 Desember 1838, is die oorsprong van Geloftedag. Bloedrivier 1838 was nie soseer ’n wit-swart-polarisasie nie, maar het eerder, vanuit ’n bepaalde gesigshoek gesien, oor Chris­telike waardes gegaan – soos eerlik­heid, regverdigheid en vryheid. Benewens die 468 Boeremans en drie Engelse, was daar ook 60 swartes en ’n onbekende aantal bruin­mense in die laer van die Voortrekkers*. Dingane* was nie as aanvoerder van ’n “swartmag” beskou wat teen ’n “witmag” te staan gekom het nie. Bewys daarvan is die bondgenootskap tussen die Voortrekker­leier, Andries Pretorius*, en mPande, halfbroer van Dingane, wat hierna met ’n strafekspedisie, waaronder 17 000 Zoeloes, finaal met Dingane afgereken het.

In die dae voor 16 Desember 1838 het die Voortrekkers* op versoek van Pretorius en onder leiding van Sarel Cilliers* aan God belowe dat, sou Hy aan hulle die oorwinning oor die Zoeloes gee ná, onder meer, die moord op Piet Retief* en sy mense, hulle en hulle nageslag die betrokke dag “soos ’n Sabbat” in dankbaarheid aan Hom sou wy. Die Voortrekkers het die oorwinning behaal, en daarna het hulle die be­trok­ke dag jaarliks soos ’n Sondag gevier, hoewel van hulle, en selfs Pretorius, hierin mettertyd verflou het.

Die vraag is of ’n groep mense hulle nageslag met so ’n gelofte kan bind. Die Voortrekkers het besef wat in daardie stadium op die spel was – dalk die Christelike geloof self in daardie deel van die land? – en dit getuig van hulle geloof in God dat hulle so ’n gelofte gemaak het. Hulle het die erns van die situasie besef. So gesien, was dit nie ’n ligsinnige gelofte nie, en kon hulle seker minstens hoop dat hulle nageslag sou verstaan waarom hulle die gelofte gemaak het en daarin sou wou deel. In die hedendaagse Suid-Afrika het Geloftedag “Versoeningsdag” geword en het die gelofte van destyds by baie in die vergetelheid verdwyn. Die gelofte van toe en versoening in die nuwe omstandighede, is egter nie teenstellend nie. Dit sou vir die nageslag van die Voortrekkers, en mense wat hulle met die waardes wat hulle vandaan kom en watter rol geloof in God in hulle geskiedenis gespeel het. (Kyk ook by: Zoeloes en die Christelike geloof.)

Vir verdere lees: JJ Oberholster en ander 1972. Monumente van Suid-Afrika. Kaap­stad: RGN.

Sidebar