GELOOFSBELYDENIS VAN ATANASIUS

GELOOFSBELYDENIS VAN ATANASIUS is saam met die Apostoliese Ge­loofsbelydenis* (Twaalf Artikels) en die Geloofsbelydenis van Nisea* een van die algemene of ekumeniese* belydenisse. Dit is nie seker wie die belydenis oorspronklik opgestel het nie, alhoewel dit die naam van Atanasius*, vroeër deken en later (328) die biskop van Aleksandrië, dra. Die agtergrond van die belydenis is die stryd oor die leer van Christus* as God en mens in die vierde eeu en daarmee saam die stryd oor die leer van die Drie-eenheid*.

In die eerste gedeelte van die “Atanasium” (Artikel 3-26) word die leer van die Drie-eenheid bely, en in besonder die wesensgelykheid van die Vader*, die Seun* en die Heilige Gees*. Die tweede gedeelte handel oor Christus en die verhouding tussen sy Goddelike en menslike natuur. Met die leer wat in die Atanasium bely word, staan of val die saligheid (Artikel 1, 2, 28, 44).

Hierdie belydenis, wat in ongeveer 366 vasgestel is, is steeds besonder belangrik en aktueel aangesien die leer van die Drie-eenheid en die Godheid van Christus ook vandag in sommige kringe bevraagteken en inderdaad ver­werp word.

Sidebar