GELOOFSBELYDENIS

GELOOFSBELYDENIS word in verskillende verbande gebruik:

  1. ‑Dié term word soms gebruik vir die handeling waardeur iemand – gewoonlik na ’n tydperk van kerklike onderrig of kate­gese – in die openbaar by ’n erediens* be­ly­denis van sy geloof* aflê en daarmee ’n belydende lidmaat van die kerk* word.
  2. ‑Die term word egter ook algemeen gebruik in die sin van ’n belydenisskrif (Kyk by: Belydenis*2, en Belydenisskrif). Dan verwys dit na ’n dokument waarin die kerk uitdrukking gee aan die geloofs­waarhede wat vir haar kosbaar is. Sulke dokumente ontstaan dikwels in krisistye wanneer bepaalde waarhede teenoor dwalings verdedig moet word. Die drie bekende algemene geloofsbelydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbely­de­nis*, die Geloofsbelydenis van Nisea* en die Geloofsbelydenis van Atanasius*, het hulle ontstaan hoofsaaklik aan die stryd oor die drie-eenheid* van God te danke. Verskeie klassieke gereformeerde* en Lutherse* belydenisskrifte het in die 16de eeu ontstaan, meestal om wat beskou is as dwaalleringe af te wys (so onder andere die Tweede Helvetiese Konfessie, die Thirty-nine Articles*, die Nederlandse Geloofsbelyde­nis*, die Heidelbergse Kategismus*, die Dordtse Leerreëls* en die Augsburgse Konfessie*). In die 20ste eeu het die Barmen-verklaring* die Nazi-ideologie* afgewys, en die Belydenis van Belhar die apartheids*-ideologie*. In talle kerke word die belydenisskrifte wat hulle as sodanig aanvaar het, in hulle kerkordes verskans omdat hulle gesien word as ’n gesagvolle vertolking van die Bybel*.

’n Geloofsbely­de­nis het egter slegs afgeleide gesag, teen­oor die Heilige Skrif* wat vir lidmate die hoogste en finale maatstaf vir leer en lewe is. Die standpunt van gereformeer­de kerke is dat die belydenisskrifte gesag het omdat (quia) hulle met die Woord van God ooreenstem, en predikante van dié kerke is deur hulle legitimasieverkla­ring verplig om hulle aan die inhoud daarvan te hou. ’n Belydenisskrif kan egter wel gewysig word indien die sino­de* op grond van ’n  gravamen (beswaarskrif) oortuig word dat ’n bepaalde formulering daarin nie in ooreenstemming met die Skrif is nie. Vir so ’n verandering word gewoonlik mins­tens ’n twee-derde meerderheid be­no­dig. In sommige kringe word eerder gesê dat die belydenisskrifte gesag het vir sover as (quatenus) hulle met die Woord* ooreenstem.

‑ Vir verdere lees: JA Heyns 1988. Inleiding tot die Dogmatiek. Pretoria: NGKB.

Sidebar