GELOOFSEKERHEID

GELOOFSEKERHEID beteken dat ons seker kan wees dat ons gered is, dat ons deel het aan die lewe. Daar is baie sterk getuienis daarvoor in die Bybel, veral in Johannes se geskrifte (Joh 3:36; 1 Joh 5:10, 12, 13). Daar is Christene* wat meen dat dit geestelike hoogmoed is om te verklaar dat ’n mens (seker is dat jy) gered is. Natuurlik kan dit in indiwiduele gevalle waar wees, maar nie in beginsel nie. Ons word uit genade* gered deur geloof*. “Uit genade” beteken ons verdien dit nie, daar is dus niks om trots op te wees nie. “Deur geloof” beteken ons kry dit van Iemand anders op wie ons vertrou. Dit sluit enige verdienste of prestasie van ons kant uit.

Daar is ook Christene wat te kenne gee dat met die term geloofsekerheid te kenne gegee word dat ’n Christen nooit twyfel nie. Dis nie korrek nie. Met hierdie term word bedoel dat ’n gelowige seker kán wees dat hy/sy gered is omdat die Heilige Gees* hom/haar daarvan oortuig … en al hoe meer daarvan wil en kan oortuig.

Geloofsekerheid is nie ’n gevoel nie, maar ’n oortuiging. Hierdie oortuiging is gegrond op die evangelie* dat Jesus almal wat glo, red.

Sidebar