GELOOFSENDING

GELOOFSENDING. Sending* rus op geloof* en lei tot geloof. Alle sendingwerk is in werklikheid “geloofsending”. Tog het dié term ’n spesifieke betekenis gekry deur daardie sendingorganisasies wat onafhanklik van spesifieke denominasies en vaste ondersteuning werk. Hierdie term word verbind aan Hudson Taylor* (1832–1905), die stigter van die China Inland Mission (CIM, later bekend as OMF – Overseas Missionary Fellowship) in 1865. Vandag is die meeste sendingorganisasies – in die wêreld en hier te lande – dalk geloofsen­dings, al word die spesifieke term nie meer so baie gebruik nie. Dit beteken dat die sendelinge van hierdie organisasies “in die geloof” uitgaan. Hulle moet self finansiële borge vind. Groot klem word daarom op gebedsondersteuning gelê. Kenmerkend van hierdie bewegings is die groot dringendheid om die evangelie* aan alle mense (etniese groepe) bekend te maak (ten einde die Einde te verhaas). Daarom word die eie indiwiduele roeping gevolg, en nie vir kerklike besluite gewag nie. Die klem is meestal op die bekering* van die heidene*. Tog lei die werk noodwendig tot kerkplanting* – wat dikwels probleme oplewer, want die beweging is juis nie “kerklik” nie. Die “mo­derne sendingbeweging” van die 19de en 20ste eeu, wat grootliks verantwoordelik is vir die wêreldwye uitbreiding van die evangelie, kan nie sonder die geloofsendings ingedink word nie.

Sidebar