GELOOFSOPVOEDING

GELOOFSOPVOEDING, geloofsvor­ming of geloofsontwikkeling is die proses van verdieping in die verstaan en uitleef van die Christelike* geloof*. Dit gaan hand aan hand met die proses van menslike ontwikkeling. Die mens ontwikkel tot volwassenheid. So het geloofsopvoeding geloofsvolwassenheid ten doel.

Kategese*, of geloofsonderrig, loop uit op die aflegging van geloofsbelydenis. Daar­die spesifieke leerproses is dan afgehandel. Maar ’n mens bly lewenslank leer en ontwikkel – ook in haar of sy geloof. Niemand is ooit volleerd in die geloof nie. Binne die geloofsgemeenskap leef mense uit God se genade*, liefde* en waarheid*. Die lede leer voortdurend van mekaar. Almal verkeer saam in ’n proses van groei en verandering. Die geloofsgemeenskap is saam leerlinge van die Here*.

Die fokus van geloofsopvoeding is nie soseer “Wat moet mense glo?” (kennis/inhoud) nie, maar val eerder op die vraag: “Hoe kom mense tot geloof?”. Mense beleef goed en sleg, aangename en moeilike omstandighede in die lewe. Hulle probeer sin maak van hulle ervaring. Gelowiges soek sin in gesprek met die verhale oor God wat hulle in die Bybel* en die geloofsgemeenskap hoor. Dit loop uit op ’n eie, persoonlike geloofsopvatting, ’n eie singewing en ’n lewenshouding wat by hulle pas. (Kyk ook: Geestelike leiding.)

Sidebar