GELOOFSVERKLARING

GELOOFSVERKLARING 2000 is met die oorgang na die 21ste eeu opgestel op inisiatief van Kerkbode* deur ’n aantal lidmate van die Geref Kerke in SA*, die Ned Herv Kerk van Afrika*, die Verenigende Geref Kerk in Suider-Afrika*, die NG Kerk*, die Reformed Church in Africa* en die NG Kerk in Afrika*. Lesers van Kerkbode het entoesiasties kommentaar op die aanvanklike konsepverklaring gelewer, waarna dit verfyn en die finale weergawe volledig in Kerkbode*, Voorligter* (LiG) en Rapport gepubliseer is. Geloofsverklaring 2000 bestaan uit 20 ver­klarings, is nie ’n nuwe of ander geloofsbelydenis* as die bestaandes nie, en is ook nie ’n “finale verklaring” nie: “Die Gees van die waarheid is immers met die gelowiges onderweg na dieper en heerliker insigte en daarvoor stel ons ons tot die Here se beskikking. Maar tot dan getuig ons: só sien en só verstaan ons die geloof wat ons bely en die implikasies daarvan in die jaar 2000”. Die 20ste Verklaring lui: “Ons glo dat God liefde is … dat die bewys van God se liefde vir ons Jesus Christus is … dat die bewys van ons liefde vir God ons daaglikse dade van liefde is … dat liefde die één gawe van God aan ons is wat vir altyd bly … dat die krag van God se liefde uiteindelik die wêreld sal oorwin.” In 2017 is begin om te werk aan ‘n “Geloofsverklaring 2020” wat hopelik 20 jaar na die verskyning van Geloofsverklaring 2000 bekend gestel sal word.

Vir verdere lees: Frits Gaum 2000. Soos ons in die 2000’s glo. Perspektief op Geloofsverklaring 2000. Kaapstad: Lux Verbi.BM.

Sidebar