GELOWIGE

GELOWIGE is volgens die Bybel* iemand met ’n persoonlike verhouding met God wat tot uitdrukking kom in vertroue en liefde*. Hierdie verhouding kom tot stand deur oorreding of oortuiging, soos met Abraham*, die vader van die gelowiges (Gen 15:1-6). Nuwe-Testamentiese* gelowi­ges deel in die beloftes van die verbond* van God aan Abraham deur die geloof*, uit genade*, op grond van Christus* se offer* (Gal 3:6-14, 22; Rom 3:23-30; Ef 2:1-10), is ’n nuwe skepping (Gal 6:15; 2 Kor 5:17), en is deur die werk van die Gees* nuut gemaak (Tit 3:5; Joh 3:5). In verbondenheid met God/Christus het gelowiges uit die dood* na die lewe oorgegaan en betoon daad­werklike liefde (Joh 15-1-9; 1 Joh 3:14-18; 4:16). Hulle het in beginsel reeds die ewige* lewe, maar sal sekerlik in die toekoms deel in die opstanding* uit die dood en in die volste sin van die woord aan die ewige lewe (Joh 10:27-28; 17:3; 1 Tess 4:13-18).

Gelowiges vertrou God, hulle gebede* het ’n kragtige uitwerking (Jak 5:16) en hulle bid tot Hom om vergewing* (Ps 32:6). Gelowiges in die vroeë kerk* het gely (Jak 1:9; 1 Pet 1:6; 5:8-9; Heb 11:35-37), mekaar opgesoek, armes gehelp, was eensgesind, delend, biddend en is in die gemeenskap gerespekteer (Hand 2:42-47; 9:36; 16:1-2; 21:16-17). Morele en godsdienstige verval is die teenpool van geloof (Miga 7:2).

 

Sidebar