GELYKENIS

GELYKENIS is die vertaling van parabole (Grieks*) (“parable”), wat beteken om dinge te vergelyk. In die Septuaginta* vertaal parabole die Hebreeuse* mashal wat bete­ken: beeldende uitspraak, vergelyking, metafoor*, spreekwoord, kort vertelling, raaisel. Die Ou Testament* ken baie vorms van metaforiese en beeldende taal, ook kort stories met ’n dubbele betekenis soos die gelykenis van die ooilam (2 Sam 12:1-4). Soms word die gelykenis verklaar (soos by Jes 5:7; 2 Sam 12:7-9). Die rabbi’s* gebruik gelykenisse om ’n bekende waarheid te onderstreep. Jesus* het dit egter gebruik om die koms van die koninkryk* van God in Homself aan te kondig. Jesus se gelykenisse vertoon verskillende gestaltes: metaforiese aforismes (Mark 3:24-25), metaforiese ver­tellings (Luk 15:11-22) en selfs metaforiese gesprekke (Goeie herder, Joh 10). Ken­merkend van ’n gelykenis is die metaforiese en simboliese aard daarvan.

Ongeveer een derde van Jesus se onderrig is gelykenisse. Die Johannes*-Evangelie gebruik nie parabole nie, maar wel ander metafore en beeldende taal. ’n Gelykenis verwys steeds na die koms, die genade* van, die mense van, of die krisis van die koninkryk se koms.

Die gelykenis lyk maklik te verstaan, maar is nie so eenvoudig nie. Vertel Jesus gelykenisse sodat mense nie moet verstaan nie (Mark 4:12), of omdat hulle nie verstaan nie (Matt 13:13)? Jesus bring die blye boodskap sodat mense sal verstaan (Mark 4:30, 33), maar die evangelie* bring ook oordeel*. Wie Jesus as persoon nie verstaan en aanvaar nie, verstaan en aanvaar nie sy gelykenisse nie.

Wanneer ’n gelykenis allegories* ver­klaar word, kry elke element daarvan ’n die­per betekenis en verwys dit na iets anders. Jülicher (1888) trek ’n streep hierdeur en sê dat ’n gelykenis net één sentrale waarheid beklemtoon. Waar ’n allegorie ’n uitgebreide vergelyking is, is ’n gelykenis volgens hom ’n uitgebreide metafoor. So ’n siening is eensydig en hou nie rekening met die Ou-Testamentiese agtergrond van en die legitieme allegoriese dimensie van gelyke­nis­se nie. Dodd* (1935) benadruk die eska­to­logiese* konteks van gelykenisse: in Jesus breek God se verlossing, die eindtyd*, nóú aan. Jeremias* (1947) benadruk die rol van die historiese situasie in Jesus se bediening.

’n Gelykenis is ook soos ’n grap. As dit verduidelik moet word, slaag dit nie. Ook die literêre aspek van die gelykenis word herontdek. Die storielyn en plasing in die verhaal* as geheel is belangrik. Die gelykenis wil die lewe van die hoorders verander; dit moet omgesit word in dade, ons moet voor Jesus se gesag buig.

Vir verdere lees: CW Burger, BA Müller, DJ Smit (red) 1987. Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale. Kaap­stad: NGKU.

Sidebar