GEMEENSKAP (CHRISTELIKE

GEMEENSKAP (CHRISTELIKE). Die begrip “Christelike* gemeenskap” kan dui op die kerk in sy verskeie gestaltes. Dit kan ook dui op ’n bepaalde manier waarop mense in Christelike gemeenskappe met mekaar in verhoudings van liefde* staan. Die Griekse* term wat in die Nuwe Testament* vir hierdie vorm van gemeenskap gebruik word, is koinonia*. Volgens die Bybelse* tekste word Christelike gemeenskap primêr in terme van die verhouding met die gekruisigde, opgestane en lewende Christus* verstaan. Die gemeenskap met God in Christus en deur die Gees* dien as bron vir en oproep tot Christelike gemeenskap.

Daar is ’n paar versoekings wat ’n Christelike gemeenskapsverstaan bedreig. Een so ’n bedreiging is ’n idealistiese verstaan van gemeenskap. So word die kon­krete gemeenskap nie ernstig geneem nie en word die droom van ’n ideale gemeenskap belangriker as spesifieke mense. Daar is ’n nostalgiese hunkering na iets wat nie kan wees nie, en in alle waarskynlikheid nooit was nie. ’n Tweede versoeking vir ’n Christelike gemeenskapsverstaan is wanneer homogeniteit tot hoofbeginsel verhef word. So ontwikkel ’n geslote gemeenskapsbegrip. Hoewel die begrip “gemeenskap” ’n mate van begrensdheid en uitsluiting veronderstel, is dit belangrik om te let op die Bybelse tekste se heenwysing na ’n oop gemeenskapsverstaan, ’n gemeenskap waarin ras, klas, taal of geslag nie verde­lingslyne vorm nie en waarin daar ’n hart vir die gemarginaliseerdes, vreemdelinge, siekes, ontheemdes, armes, verdruktes en eensames is.

Die uitdaging vir Christelike gemeenskappe is om in onderlinge verhoudings nie die verbruikerskultuur te weerspieël nie, maar om as teken van die koninkryk* van God ’n ander vorm van saamleef te beliggaam. ’n Christelike gemeenskapsbegrip dien nie net as kritiek teen ’n selfgefokusde indiwidualisme nie, maar ook ten opsigte van vals vorms van kollektiwisme wat in die pad van ’n meer menslike en regverdige samelewing staan. Gemeenskap word ook bedreig deur ’n verekonomise­ring van ons verstaan van tyd. Aangesien die beskouing heers dat tyd geld is, word tyd vir verhoudings as tydmors beskou omdat dit nie ekonomies nuttig is nie. So word ons gemeenskap met mekaar op ’n nuttigheidsbeginsel gebou en word ’n gerigtheid op die ander verdring deur die soeke na eie (ekonomiese) belang. ’n Chris­te­like koinonia-begrip praat ’n ander taal deurdat dit wys in die rigting van ’n gesindheid wat nie net deur ’n lewe-met-die-ander nie, maar ook deur ’n lewe-vir-die-ander gekenmerk word. (Kyk ook: Ge­meenskap van die heiliges.)

Sidebar