GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES

GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES. Deur die eeue en oor die wêreld bely Christene*: “Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Hierdie woorde weerklink in belydenisse soos die Apostoliese Geloofsbelyde­nis*. Dit dui op ’n diep verstaan van gemeenskap wat gelowiges van alle tye en plekke saambind. Volgens een beskouing dui dit op die gemeenskap met of deelname aan die heilige dinge, dit is, die sakra­mente* in die kerk*. Gemeenskap van die heiliges kan egter ook as gemeenskap met die heiliges verstaan word. Dit dui op die gemeenskap met die gelowiges van alle eeue en oor die hele wêreld heen. Die woord “heiliges” roep dikwels by mense die betekenis op van uitsonderlike indiwidue, soos Franciskus* of Moeder Teresa*. In die Bybel* verwys die woord “heiliges” egter na die “gelowiges” of “die volk van God”. Dit is ook hoe die frase meestal in die Vroeë Kerk* gebruik is. Soos wat die kerk mettertyd staatskerk geword het, het dit ook ’n meer eksklusiewe betekenis gekry. Die frase “gemeenskap van die heiliges” dui egter primêr op diegene wat vir God afgesonder is (1 Kor 1:2), dit is die gelowiges*. (Kyk ook: Gemeenskap – Christelike.)

 

Sidebar