GEMEENTE

GEMEENTE en “kerk”* is terme wat dikwels afwisselend gebruik word. Gemeente verwys normaalweg na die plaaslike geloofs­gemeenskap wat gereeld bymekaarkom om saam te aanbid en om saam opgebou te word met die oog op hulle roeping as ge­stuurdes na die wêreld. Die Bybel* se woorde vir gemeente verwys na die groep mense wat uitgeroep en saamgeroep is deur dié Here* wat met hulle ’n verbond* (ooreenkoms) aangegaan het (Deut 9:10; 10:4). In die ooreenkoms beloof die Here sy genade* (guns) aan hulle. Hy gee hulle sy wet of verordeninge waarvolgens hulle vrede en sin in die wêreld kan vind. Die Here se genade vind gestalte in die koms, kruis en opstanding van Jesus Christus*. ’n Gemeente is mense wat in Jesus* glo, mense wie se sonde* vergewe is. Jesus is die hoof van die gemeente. As gestuurdes na die wêreld, dra lidmate die blye boodskap (evangelie*) van Jesus se verlossing en liefde in woord en daad uit. As sodanig is die gemeente ’n teken van Jesus se blywende teenwoordigheid en heerskappy (konin­k­ryk*). Die koms en teenwoordigheid van die Heilige Gees* bemagtig die gemeente om te word wat God wil hê dit moet wees. Lidmate ontvang gawes van die Gees (Kyk by: Gawes van die Gees) vir hulle dienswerk en sending.

Vir verdere lees: C Brown (red) 1975. The New International Dictionary of New Testament Theology, Vol 1: 291-307. Exeter: Paternoster.

Sidebar