GEMSER, BEREND

GEMSER, BEREND (1890–1962), die grondlegger van die studie van die Semitiese Tale* in Suid-Afrika, is in Noord-Holland gebore en het aan die Ryksuni­versiteit van Groningen Semitiese Tale onder De Liagre Böhl en Ou Testament* onder Bleeker bestudeer, waar hy in 1924 die DLitt ontvang het. As predikant ontvang hy in 1926 die aanbod om aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege (vandag die Universiteit van Pretoria) onderrig te gee in beide Semitiese Tale in die Fakulteit Lettere en Ou Testament* in die Fakulteit Teologie (Ned Hervormde Kerk*). Die dubbele werklading was veelei­send, maar die tenger Gemser het steeds kans gesien om gereelde bydraes oor Bybel­se* en argeologiese* temas in kerkblaaie te publiseer. As voorsitter van die redaksieraad van die pas gestigte Hervormde Teologiese Studies, het hy ’n blywende bydrae tot die teologiese akademiese tradisie in Suid-Afrika gelewer.

Gemser word ver­­al onthou vir die baanbrekende Hebreeuse Spraak­kuns (1953, 1960 en 1968), wat honder­de teologiese studente in Afrikaans begelei het om die ge­heime van die Hebreeuse gramma­tika te ontrafel. As kenner van die Ou-Testamen­tiese Wys­heid skryf Gemser kommentare oor Spreu­ke* en Prediker* in Nederlands en Duits wat internasionale erkenning aan hom verleen het.

’n Sonderlinge onderskeiding het Gem­ser te beurt geval toe hy met aftrede na sy alma mater, die Ryksuniversiteit van Groningen, as opvolger van Th C Vriezen beroep is.

Sidebar