GENADE

GENADE is die vrye guns van ’n meerdere teenoor ’n mindere, staan teenoor verdienste en is die gevolg van die medelye van die een wat dit betoon (Rom 9:16; 11:6; Ef 2:1-10). Mense betoon genade (1 Sam 20:14-16; Gen 43:14), maar dit is primêr God se eienskap (Eks 34:6; Ps 103:8–12; Joël 2:13).

Die kerk* is produk van God se genade (1 Pet 2:9-10). God betoon genade aan goddeloses, sondaars, vyande (Rom 5:6-10; Jona 4:2, 11). Jesus* is die toonbeeld van sy genade (Joh 1:14-18). Uit genade kies Hy ons (Ef 1:3-6), skenk Hy vergewing* (2 Sam 24:14; Ps 51:3; 103:3-4; Miga 7:19), bevryding (Jes 30:18-19), en het ons vrye toegang tot die genadige God deur Christus* se medelye met ons (Rom 5:2; Heb 4:15-16).

God se genade is genoeg ten spyte van ons gebreke (2 Kor 12:9, 12). Dit is soms sinoniem met evangelie*, redding* en krag* (Hand 20:24, 32; Kol 1:5-6; Rom 5:20-21). Gelowiges ontvang genadegawes* (Rom 12:6; Ef 4:4-11). Genade lei tot dank­baarheid*, gehoorsaamheid* en diens* (Eks 20; Tit 2:11–14; Rom 6:1-17; 2 Kor 8:9-10).

’n Genadegroet is tipies aan die begin en einde van Paulus* se briewe* (Rom 1:7; 16:20; 1 Kor 1:3; 2 Kor 13:13).

Sidebar