GENADEDOOD

GENADEDOOD is die doelbewuste dood­maak van iemand wat tot doel het om hom of haar op ’n menswaardige manier te laat sterwe. Dit was vroeër ’n opsie waarmee mense slegs in uitsonderlike situasies, byvoorbeeld op die slagveld, gekonfronteer was. Vandag het dit egter ’n dringende etiese probleem geword. Vanweë die vooruitgang van die mediese wetenskap, word steeds meer mense oud. Hulle gaan dikwels deur lang en moeilike sterwens­prosesse as gevolg van hartkwale, kanker of beroerte. Steeds meer mense oordeel dat diesulkes die reg het om deur genadedood, of deur medies-ondersteunde selfdood, ’n onwaardige dood te vermy.

Dit is nodig om te onderskei tussen die doelbewuste doodmaak van ’n terminaal siek persoon, die toelating van sy dood deur die staking van mediese behandeling, en die onbedoelde veroorsaking van sy dood deurdat ’n oordosis pynstillende middel per ongeluk toegedien word. In die verlede is dié drie vorms van dood onderskei as aktiewe, passiewe en indirekte gena­de­dood. Dit is egter beter om die woord “genadedood” slegs in die eerste geval aan te wend, as die bedoeling om dood te maak, aanwesig is.

Die ondersteuners van genadedood en medies-ondersteunde selfdood baseer hulle argumente gewoonlik op die indiwi­du se reg tot selfbeskikking en die Christe­like plig om lyding te verlig. Die meeste kerke* veroordeel dit egter. Dié veroordeling steun op die sesde gebod (Kyk by: Tien Gebooie) wat die doelbewuste neem van – in elk geval onskuldige – menslike lewe verbied. Christelike oortuigings oor die lewe as gawe van God wat geen mens mag afwys nie, en oor God as die enigste beskikker oor lewe* en dood*, ondersteun hierdie verbod. Die staking van mediese behandeling wanneer dit duidelik word dat so ’n behande­ling geen verdere sin het nie en slegs tot die uitrek en toename van die lyding van ’n persoon kan lei, word egter nie veroordeel nie.

Vir verdere lees: DE de Villiers 2002. “Euthanasia and Assisted Suicide: A Chris­tian ethical perspective”, in: Acta Theolo­gica, Supplementum 3: Essentialia et Hodie­rna, Oblata PC Potgieter, 2002, 35-47.

 

Sidebar