GENADEMIDDELE

GENADEMIDDELE. Die gawes van die Heilige Gees* waarvan die mens vir redding tot die ewige lewe afhanklik is – we­der­geboorte*, roeping*, geloof*, bekering*, regverdiging*, heiliging* en volharding* – is almal die gevolg van God se genade* in Christus*. Alhoewel God sy genade direk deur die Heilige Gees aan mense kan skenk, het Hy dit so beskik dat dit deur sekere middele gedoen word. Hierdie middele is die Woord* van God en die sakra­mente* van die doop* en die nagmaal*. In dié middele staan die versoeningswerk van Christus* deur sy offerande aan die kruis sentraal. Die Woord is egter die primêre genademiddel omdat die Heilige Gees net deur die Woord (sola Scriptura) geloof* in die mens tot stand bring en daarmee die ewige lewe skenk (Rom 10:17). Die sakramente is sekondêre genademiddele, omdat hulle op die Woord berus en nie die geloof skep nie, maar dit slegs voed en versterk. Die sakramente is ’n sigbare bevestiging en verseëling van die verbondsbeloftes wat in die Woord vervat is.

Sidebar