GENADEVERBOND

GENADEVERBOND. God is die God van die verbond*. Van die skepping* af het Hy Homself met die mens in ’n verbonds­verhouding gestel. Die mens het met die sondeval* die verbondsverhouding met God verbreek. God laat dit egter nie daar nie, maar kom sluit met die mens ’n nuwe verbond. Dit staan bekend as die genadeverbond. Ons vind die eerste heilsbelofte reeds in Gen 3:15. Die woord “verbond” kom in die Bybel* die eerste keer in Gen 6:18 (Noag*) voor. Die verbond met Abra­ham* in Gen 15 en weer in Gen 17 staan baie sentraal. By die verbondsluiting is die twee partye (God en die mens) nie gelykwaardig nie. God neem die inisiatief. Die sg verbondsformule sê in kort wat die verbond beteken: “Ek is jou God en jy is my volk.” Verder bestaan die verbond uit die beloftes van God (Gen 12:2; 15:5, 18), die eise van die verbond (vgl die wet by Sinai) en die oordeel van die verbond in die geval van oortreding.

Die genadeverbond bly in wese dieselfde in die Ou* en die Nuwe* Testament, alhoe­wel dit verskillende bedelings (fases) deurloop. Omdat die mens nie die verbond kon hou nie (reeds in Gen 16 toon Abram sy kleingeloof in die beloftes van God en verwek ’n kind by Hagar), het Christus* gekom om die verbond in ons plek te vervul. In Hom is al God se beloftes “ja en amen”. Hy is die Verbondsmiddelaar en die Borg van die verbond wat die verbond beseël met die offer* van sy lewe (vgl onder ande­re Heb 13:20).

Daar is saam met die verbond ook ’n teken en ’n seël (waarborg) gegee. In die Ou Testament is dit die besnydenis* en in die Nuwe Testament die doop*. By die doop verseël God sy verbondsbeloftes.

 

Sidebar