GENESINGS

GENESINGS. God is aktief by herstel be­trokke, maar Christene* ook by genesing. In Bybelse* tye is verbande en geneeskundige pleisters gebruik (Job 5:18; Jer 30:13; 2 Kon 20:7), ook balsem (Jer 8: 22), olie en wyn* (Luk 10:34; 1 Tim 5:23). Mediese behande­ling moes vergesel word deur gebed* (Jak 5:14-16).

Therapeuo (Grieks) beteken “dien” in se­ku­lêre en kultiese sin, maar ook “sorg” en “genees”. Jesus* se wonders* illustreer sy prediking oor die koninkryk* van die God. Jesus het egter nie soseer gekom om te ge­nees nie, maar om te preek (Mark 1:38). Deur ook te genees, het Hy Ou-Testamen­tiese profesieë* vervul (Matt 8:16,17).

Jesus kon, vanweë sy dorpsgenote se on­ge­loof*, nie in Nasaret* baie wonderdade verrig nie (Matt 13:58). Mense moes hulleself vir Jesus oopstel voordat genesing plaasgevind het. Geloof* is egter nie ’n voorwaarde vir genesing nie en word dikwels nie eers met genesings verbind nie (Mark 1:32-34), maar wel met redding* (Luk 17:11-19). Jesus prys die geloof van die verlamde man se vriende (Mark 2:1-5). Die geloof van die geneser maak wel saak (Matt 17:14-20; Jak 5:14-16). Diens* aan God en God se wil* staan sentraal. Daarom gebruik evangelie-verkondigers hulle bevoegdheid om wonderdade te verrig, nie vir hulleself nie (2 Kor 12:7-10; Fil 2:25-28; 2 Tim 4:20).

 

Sidebar