GENESIS (BYBELBOEK)

GENESIS (BYBELBOEK) is die eerste boek in die Bybel*. Dis deel van die eerste vyf boeke (Pentateug*) wat deur die Jode* die wet* of tora* genoem word. Die naam is afgelei van die Griekse* naam van die boek wat beteken “oorsprong/begin”. Gene­sis bied ’n inleiding tot die Pentateug, sowel as die Ou Testament* en die hele Bybel, en vertel hoe die wêreld geskep is en hoe God se inisiatief en beloftes die identiteit van die volk Israel* gevorm het as nakomelinge van Abraham*, Isak* en Jakob*.

Genesis word opgedeel in twee hoofdele, naamlik die voorgeskiedenis (Gen 1–11), en die geskiedenis van die aartsvaders*, Abraham, Isak, Jakob en Josef*1 (Gen 12–50). In die Hebreeuse* teks is daar duidelike verhaalnate (die sogenaamde Toledot-formule): “Hier volg die geskiedenis/ge­slagsregister/verhaal van …” (bv Gen 2:4).

Die voorgeskiedenis se inhoud is breedweg: Skeppingsverhaal (Gen 1:1–2:4a); paradysverhaal (Gen 2:4b–3:23); Kain* en Abel* (Gen 4:1-26); geslagsregister van Adam* tot Noag* (Gen 5:1-32); vloedverhaal en verbond* (Gen 6–9); geslagsregister van Noag se seuns (Gen 10:1-32); Toring van Babel* (Gen 11:1-9) en die geslagsregister van die nageslag van Sem* (Gen 11:10-31).

Dié verhale handel oor die oorsprong van dinge, soos die mens, sonde* en werklikhede van die wêreld. Die verhale is klaarblyklik nié presiese historiese beskrywings nie, maar het ten doel om waarhede oor God en die mens te kommunikeer. Die meeste van die stories toon ooreenkomste met verhale van ander Ou Nabye Oosterse-volke, maar met ’n eie unieke teologiese perspektief.

Gen 12–50 is verhaalsiklusse oor die aartsvaders. Die hoofsiklusse is die lewe van Abraham, Jakob en Josef. Die Josefver­haal is ’n novelle op sy eie. Isak se storie kry die minste aandag – sy verhaal is geïntegreer in die verhale van die ander. Die indeling is: Abraham en die begin van God se verbondsgeskiedenis (Gen 12:1–25:18); Isak (Gen 25:19–26:35); Jakob (Gen 27–36); Josef (Gen 37–50).

Die verhale beskryf die lewe en konflik van die families met wie God ’n verbond* gesluit het. Dit begin met die uittrek van Abraham uit Mesopotamië* na Kanaän* op bevel van die Here*. Abram/Abraham en Sarai/Sara* ontvang ’n belofte van ’n groot nageslag, maar Sara is onvrugbaar. Ismael* word gebore nadat Sara uit moedeloosheid haar slavin, Hagar*, vir Abraham gegee het. Sara word egter swanger en Isak word gebore. Hagar en haar kind word weggejaag. God vra vir Abraham om sy enigste seun te offer en hy gehoorsaam, maar God stuur ’n ram in sy plek. Isak vat vir Rebekka* as vrou en na ’n lang periode van onvrugbaarheid bring sy tweelingseuns, Jakob en Esau*, in die wêreld. Jakob bekom die seëninge van die eersgeborene en vlug na Haran*. Daar neem hy vir Lea* en Ragel* as vroue. Hy is lief vir Ragel en nie vir Lea nie. Vir Jakob word twaalf seuns en ’n dogter gebore. God verander sy naam na Israel*1 en hy word voorvader van die twaalf stamme van Israel. Daar is ook konflik onder sy seuns, en sy lieflingseun Josef word deur sy broers verkoop. Josef beland in Egipte* vanwaar hy as onder-koning sy broers red van hongersnood. Josef laat sy pa haal en Genesis eindig met die nageslag van Jakob wat in Egipte bly.

Histories word die aartsvaderverhale geplaas binne die Middel- en Laat-Bronstydperk (19de tot 15de eeu vC). Argeologiese* opgrawings verbind die tipe semi-nomadiese leefstyl sowel as kulturele gebruike wat in Genesis funksioneer aan hierdie tydperk. Bewyse van migrasies uit hierdie tyd is gevind, en dit was nie vreemd vir ’n familie soos dié van Abraham om van een gebied na ’n ander te trek nie.

Genesis en die res van die Pentateug is die produk van ’n lang ontstaansproses. Verskeie hipoteses is al voorgestel om die ontstaan van die geskrifte te verklaar. Meestal word aanvaar dat Genesis uit verskeie tradisies bestaan, mondeling sowel as skriftelik, wat met verloop van die geskiedenis bymekaargemaak is, en moontlik tydens of na die Babiloniese ballingskap* in die 6de eeu vC saamgevoeg en afgerond is tot die geheel soos ons dit vandag ken. Die hipotese wat die meeste gebruik is om die ontstaan van die Pentateug te verduidelik, is die sg dokumentêre hipotese, wat vier hoofbronne van die Pentateug identifiseer. Die kritiek teen dié hipotese is dat die datering en indelings spekulatief bly. Sommige stel voor dat die fokus nie op die bronne moet wees nie, maar op die eindproduk. Genesis moet as ’n eenheid gelees word, en as ’n boek uit sy tyd gerespekteer word. Dit is egter verkieslik om Genesis te verstaan as die produk van ’n dinamiese ontstaansproses wat daarom bestaan uit materiaal met diverse invalshoeke en perspektiewe.

Genesis reflekteer sekere sentrale teologiese oortuigings: God skep en God het goed geskep. Die skepping van die volk Israel word verstaan binne die konteks van die skepping van die heelal. Genesis ondersoek die verhouding tussen God en die skepping, veral die mens. Die mens is na God se beeld (Kyk by: Beeld van God) geskep, maar is nie tevrede met die grense wat God stel nie. Die mens kom gedurig in opstand. Genesis vertel dat die sonde ernstig is, dat God elke keer die sonde konfronteer met straf, maar dat Hy altyd die inisiatief neem en nuwe toekoms­moontlikhede skep.

Die boek beskryf ook die begin van die verbondsgeskiedenis. God sluit ’n verbond met Abraham en sy nageslag en deur hom met die hele wêreld. Hy bly by sy beloftes aan die aartsvaders te midde van hulle twyfel en soms onaanvaarbare optredes. Die beloftes het te maak met land en nageslag, seëning en beskerming. God staan agter al die verhale wat dinge laat uitwerk soos Hy dit bedoel het.

God tree verrassend op. Anders as die gebruike van die dag, word die jongste bo die oudste geseën. God hoor en sien nie net die uitverkore familie nie, maar Hy luister ook na Hagar en Ismael se noodkrete en beloof ook daar ’n nageslag. Genesis vertel van die God van Abram, Isak en Jakob, maar ook die God van Sara, Rebekka, Ragel en Lea en Hagar – verhale van vroue wat kinderloos is of uitgestoot word, wat deur Hom geseën word en deel word van die verbondsgeskiedenis.

Vir verdere lees: R Alter 2004. The Five Books of Moses. New York: WW Norton and Company. W Brueggemann 1982. Genesis. Atlanta: John Knox Press. CA Newsom (red) 1998. Women’s Bible Commentary. Louis­ville: Westminster John Knox Press.

 

Sidebar