GENETIESE MANIPULASIE

GENETIESE MANIPULASIE is die byvoeg van eksterne genetiese materiaal in ’n organisme, of die verandering van die bestaande genoom van ’n organisme om funksionerende gene te kan byvoeg, gene wat afwykings toon te vervang of die organisme te “verbeter”.

Die genetiese manipulasie van diere en plante opper vrae rondom die verstaan van die skepping* en die rol en verantwoordelikheid van mense daarin. Sommige beskouinge sien enige inmenging van die mens in die skepping as die oorskryding van God se terrein, terwyl ander op rentmeesterskap* fokus en die mens as mede-skepper sien.

In menslike genetiese manipulasie word onderskei tussen somatiese en oorerflike terapie. Eersgenoemde beïnvloed slegs die selle van ’n indiwidu, terwyl oorerflike terapie ook die gene van sy/haar kinders raak. Sommige teoloë en kerke* is ten gunste van somatiese terapie, maar trek die streep by terapie wat oorerflik sou wees.

Die party wat die ergste benadeel kan word deur die gebruik van genetiese manipulasie, is kinders wat beïnvloed word deur die keuses wat hulle ouers uitoefen. Genetiese manipulasie roep egter ook ’n aantal ander etiese* vrae op. Kan kinders as ’n gawe van God beskou word wanneer hulle genetiese samestelling verander word? Is ons skuldig aan hebsug, erken ons nie ons beperkings nie en probeer ons “God speel” as ons genetiese manipulasie benut? Of kan dit ook as ’n morele (Kyk by: Moraal en Morele visie) verpligting gesien word om nie genetiese siektes aan ons kinders oor te dra nie? Is die sonde* miskien om nie verantwoordelikheid vir die skepping te aanvaar nie? Die gevaar bestaan ook dat kinders slegs liefgehê sal word wanneer en indien hulle voldoen aan die voorkeure van hulle ouers.

Wanneer genetiese manipulasie gebruik word om te verseker dat kinders geneties ooreenstem met ’n broer of suster wat aan ’n genetiese siekte ly, word vrae opgeroep oor die skep van ’n mens vir ’n spesifieke doel. Die etiese dilemma word vergroot wanneer die ouers in elk geval beplan het om nog kinders te hê.

Genetiese tegnologie blyk ook om nie werklik te fokus op die behandeling van gestremdhede nie, maar eerder die identifisering en uitwissing daarvan. Die boodskap wat aan persone met gestremdhede gegee kan word deur genetiese manipulasie te gebruik om gestremdhede in ander te verhoed, is dat, alhoewel ons hulle volle insluiting in die samelewing ondersteun, dit beter sou gewees het as hulle nie bestaan het nie. Die waardigheid van persone met gestremdhede en die besef dat ook hulle na die beeld* van God geskep is, is een van die grootste etiese kwessies in hierdie verband. Genetiese manipulasie om die geslag van toekomstige kinders te bepaal, opper dieselfde soort vrae en is in wese diskriminerend.

Etiese vrae kom ook na vore aangaande sosiale geregtigheid* indien slegs diegene wat dit kan bekostig deur die gebruik van genetiese manipulasie sekere siektes in hulle kinders kan verhoed. Indien die eienskappe van hulle kinders deur ryker indiwidue “verbeter” word, kan dit ook daartoe lei dat vermoëns aan sosiale klas gekoppel word. Daar moet egter in gedagte gehou word dat beter mediese sorg reeds slegs beskikbaar is vir diegene wat in staat is om daarvoor te betaal. Die aspek van sosiale geregtigheid kan daarom nie slegs aan genetiese manipulasie toegeskryf word nie.

Moontlike genetiese manipulasie opper verder ook etiese vrae in terme van die grys gebied tussen terapie en verbetering. Die gevare daaraan verbonde om die mensdom te probeer “verbeter”, is duidelik uit die geskiedenis en opper etiese vrae wat verband hou met hoe ons God as Skepper, die mens as skepsel en ons plek binne die skepping verstaan.

Vir verdere lees: A Verwey 2010. Nature and altering it. Grand Rapids, Michigan: William B Eerdmans.

 

Sidebar