GERDENER, GUSTAV BERNHARD AUGUST

GERDENER, GUSTAV BERNHARD AUGUST (1881–1967) is op Wuppertal gebore waar sy pa ’n Rynse sendeling was. Hy voltooi sy skool- en universiteitsoplei­ding op Stellenbosch en word in 1905 gelegitimeer. Tot 1912 is hy rondreisende sekretaris van die CSV* en van 1913 tot 1919 die voorsitter. Tussen 1906 en 1912 was hy ook redakteur van Die Christen-Student. Ná ’n kort kursus in geneeskunde in Engeland, is hy vanaf 1913 werksaam onder Moesliems* in die Kaap. In 1917 word hy medeleraar van die NG Kerk* Stellenbosch. In 1920 vertrek hy na Duitsland waar hy in 1922 in Tübingen promoveer. Met sy terugkeer was hy tien jaar lank predikant van Wakkerstroom. In 1933 word hy dosent aan die Sendingin­stituut* te Wellington en in 1937 hoogleraar aan die Kweekskool* op Stellenbosch. Talle belangrike publikasies het uit sy pen verskyn, waarvan die bekendste sy Handboek by die katkisasie is wat jare lank in die NG Kerk gebruik is. Hy het oor ’n wye gebied diens in kerk en samelewing gelewer. Hy ontvang eredoktorsgrade in teologie* van Stellenbosch (1955) en Unisa (1965).

Een van sy seuns, Theo Gerdener, het in die Nasionale Party-kabinet van BJ Vorster* gedien, maar bedank vanweë verskille oor die rassebeleid.

Vir verdere lees: CJ Beyers (hoofred) 1981. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 4. Pretoria: RGN.

Sidebar