GEREFORMEERD

GEREFORMEERD. Hoewel die Christe­like leer verskillende kernwaarhede het, onderskei die gereformeerde beskouing hom­self van ander belydenisbenaderings deur vier kernwaarhede te beklemtoon, naamlik verlossing (Kyk by: Redding) deur Christus* alleen (sola Christo), geloof* alleen (sola fide), genade* alleen (sola gratia) en die Skrif* alleen (sola Scriptura).

Binne die gereformeerde leer – wat veral op voetspoor van die hervormer Johannes Calvyn* sterk ontwikkel het – speel die ge­sag van die Woord* ’n belangrike rol. Wie buig voor die gesag van die Woord, erken die outoriteit van God oor die lewe van die mens en strewe daarna om die beginsels wat in die Bybel* vir die mens se lewe neergelê is, te volg. Hier­die beginsels moet nie as rasionalis­tiese denkkonstrukte verstaan word nie, maar as die uitdrukking van die kern van die Christelike geloofslewe. Gerefor­meerd-wees is méér as ’n belydenis: dit is ’n denk- en sienswyse waarvolgens ’n mens sy/haar lewe oriënteer. Om gereformeerd te wees, beteken dat daar voortdurend ’n proses van vernuwing – reformering, hervorming – moet wees. Dit hang saam met die karakter van die gereformeerde kerke wat ás kerke van die Reformasie* voortdurend moet vernuwe (reformata – reformanda). Gereformeerd-wees (staties) moet altyd deur gereformeerd-word (voortduren­de vernuwing) gevolg word. Dit beteken dat die gereformeerde kerk hom ook voortdurend in die lig van die Skrif* moet oopstel vir nuwe insigte en ook bereid moet wees om gekorrigeer te word. Die gereformeerde karakter is relevant vir elke tyd deurdat dit nie net die waarhede van die Bybel onderskryf nie, maar ook met die verstaan van die Bybelse boodskap vir elke nuwe tyd en nuwe omstandigheid worstel.

Die gereformeerde klem op die ver­bond*, en die siening wat daaruit voort­vloei dat alle natuurlike verbande soos die huwelik*, gemeenskapslewe en die staat* bane is waarbinne die genadeverbond gekanaliseer word, het ongelukkig in bepaalde gevalle gelei tot die ontstaan van volks­kerke* waarin volkspolitieke dwalings klak­ke­loos nagepraat is. Die ideaal van ’n teo­kra­tiese staat (Kyk by: Teokrasie), soos verwoord in Artikel 36 van die Neder­landse Geloofsbelydenis*, epitoom van gereformeerde belydenisgeskrifte, het ver­oor­saak dat volk en kerk alte dikwels in mekaar vervloei het en dat gereformeerde kerke hulle profetiese* en getuigende rol verloor het.

Die pynlikste is dat gereformeerdes, wat die gesag van die Skrif* so beklemtoon, dit meermale op ’n manier doen wat nie aan die ware aard van die Skrif reg laat geskied nie. Dan word fundamentalisties* oor die aard van hierdie gesag gedink. As voor­­skrifte vir die gereformeerde lewe “voor die aangesig van God”, word Bybelverse dan op ’n bedenklike hermeneutiese* manier onhistories en wetties aangehaal wat die Bybel laat buikspreek.

 

Sidebar