GEREFORMEERDE EKUMENIESE RAAD (GER)

GEREFORMEERDE EKUMENIESE RAAD (GER) (1946–2010) is die naam wat die eertydse Gereformeerde Ekumeniese Sino­de in 1988 vir homself aanvaar het. Hierdie wêreldwye kerklike liggaam wat ongeveer 40 lidkerke gehad het (2006), is in 1946 gestig deur die Gereformeerde Kerken in Nederland, die Christian Reformed Church in North America en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)*. Die Gereformeerde Ekume­niese Raad het in die Nederlandse gere­for­meerde* tradisie gestaan en normaalweg kerke betrek wat op die een of ander manier kerklik aan die Nederlandse gereformeerde kerke verwant was. Dit was van lidkerke verwag om een of meer gereformeerde bely­denis­skrifte* te handhaaf of om in ’n pro­ses te wees om dit te doen.

Hoewel hy hom ook daarmee besig gehou het, was die GER nie so sterk gefokus op samele­wingskwessies soos die voormalige Wêreldbond van Ge­re­formeerde Kerke* nie. Botsende standpunte oor onder meer apartheid* en ho­mo­filie (homoseksualiteit*) het in die 1970’s en 1980’s groot spanning in die geledere van die GER veroorsaak. Omdat sy lidkerke wat die belydenis en inrigting van die kerk betref, nader aan mekaar was as die lidkerke van die Bond, het belydenis-, liturgiese*, missionêre (Kyk by: Sending), bedienings- en kerkordelike (Kyk by: Kerkorde) sake in die GER meer aandag geniet. Die GER en die Wêreldbond het in 2006 besluit om te verenig, wat in 2010 gebeur het met die totstandkoming van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGK)*.

Sidebar