GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA (GKSA)

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA (GKSA) is gestig op 11 Februarie 1859 te Rustenburg in die destyd­se Zuid-Afrikaansche Republiek. Een van die belangrikste redes vir die stigting van die GKSA was ernstige meningsverskil met die Kaapse Kerk* (NG Kerk*) oor die liedere wat tydens eredienste* gesing mag word. Verskeie gemeentes het toe in die Kaap­kolonie en Transvaal ontstaan. Die GKSA het die drie Formuliere van Eenheid* as belydenisskrifte* aanvaar. Hulle is die Heidelbergse Kategismus*, die Nederlandse Geloofsbely­denis* en die Dordtse Leerreëls*. As kerkor­de is die Kerkorde van Dordt* soos gewysig vir Suid-Afrikaanse omstandighede, aanvaar. In 1869 het die GKSA ’n eie Skool vir Teologiese Opleiding in Burgersdorp gestig. In 1905 is hierdie Teologiese Skool verskuif na Potchefstroom. As uitvoering van die ideaal van die GKSA om ’n inrigting vir Christelike Hoër Onderwys daar te stel, het die latere Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys* uit die Teolo­giese Skool te Potchefstroom ontwikkel.

In 2004 is die PU vir CHO verenig met die Universiteit van Noordwes om die Noordwes-Universiteit te vorm. Hierdie universiteit het drie kampusse waarvan die kampus op Potchefstroom steeds die grootste is met ruim 25 000 studente. Die Teolo­giese Skool van die GKSA het ’n unieke ooreenkoms met die Noordwes-Universiteit wat bepaal dat predikante vir die GKSA hier opgelei word en dat die dosente wat uit die kerke beroep word, teologie* aan die Fakul­teit Teologie van die universiteit doseer.

Die GKSA het in 1921 sending*werk in Noord-Transvaal begin en dit later oor die hele Republiek van Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe, Zambië en Namibië uitgebrei. Uit hierdie sendingwerk het gemeentes* onder die swart bevolking ontwikkel wat twee nasionale sinodes* gevorm het. Later is ook ’n nasionale sinode vir die sg Kleurling-bevolking gestig. Hierdie drie nasionale sinodes het saam met die “wit” nasionale sinode elke sewe jaar as Al­ge­mene Sinode van die GKSA vergader. In 2006 is besluit om die kerke uit die verskillende bevolkingsgroepe te integreer en slegs een Algemene Sinode daar te stel sonder nasionale sinodes. Kerke wat naby me­kaar geleë is, vorm, ongeag ras of etnisiteit, ’n klassis. Klassisse vorm streeksinodes en die streeksinodes kom byeen in die Alge­mene Sinode. In 1959 is ’n opleidingskool vir swart studente, wat as predikante wou studeer, opgerig en dit het tot 1994 by Hammanskraal gefunksioneer. Sedert 1995 is die opleiding verenig met die opleiding te Potchefstroom waar studente uit alle bevolkingsgroepe tans saam opgelei word.

Die posisie van die vrou* in die kerklike ampte* is die onderwerp van jarelange besinning in die GKSA en teen 2014 was vroue nog nie tot die ampte van ouderling* en predikant* toegelaat nie. ’n Ander saak waaroor in die breër gereformeerde* kringe al lank verskil van mening bestaan, is homoseksualiteit*, en die GKSA in sy amptelike hoedanigheid is afwysend teenoor die uitlewing van homoseksualiteit in die praktyk.

Die GKSA se Afrikaanssprekende lidmate tel ongeveer 99 400 (2014), en in totaal het die kerk nagenoeg 140 000 lidmate. Groei vind hoofsaaklik in die jong kerke, wat op die sen­dingveld ontstaan het, plaas, terwyl kerke onder Afrikaanssprekendes stelselmatig verouder. Tans word ernstig besin oor gesonde vernuwing binne die raamwerk van Bybel­se* beginsels ten einde ’n dinamiese tydge­rigte bediening* daar te stel. Die GKSA toon ’n identiteit wat oor jare gevorm is deur ’n sterk beklemtoning van die gesag van die Skrif* en die handhawing daarvan in die leer en lewe van lidmate. (Kyk ook: Dirk Postma; Ferdinand Postma; HG Stoker).

 

Sidebar