GEREGTIGHEID

GEREGTIGHEID. In die Bybel. Geregtigheid is ’n sentrale begrip in sowel die Ou* as Nuwe* Testament. Die Ou-Testamentiese stam sdq en die Nuwe-Testamentiese stam dikaio- beteken dat iets “reg” is, aan God se vereistes en wet* voldoen. In die regspraak beteken “geregtigheid” dat iemand reg, onskuldig is. In verbondstaal beteken hierdie woord dat God betroubaar is as Regter (Ps 9:4) en as Koning* wat Israel* red en sy vyande straf (Rig 5:11). Die Here* se Naam is geregtigheid (Jer 33:16; 1 Kor 1:30 – 1933-Afrikaanse Vertaling). Vir die mens beteken geregtigheid gehoor­saam­heid* aan God se wil* (Deut 6:25). God gee liefde*, trou, reg en vrede*, maar Hy ver­wag dit ook (Jer 9:24). Omdat gereg­tig­heid so dikwels by mense ontbreek, oordeel* en straf* God (Jes 26:7-10). God se geregtigheid en redding* word sinonieme (Jes 51:1-3). Ná die ballingskap* hoop mense op God se geregtigheid (Jer 23:5).

Binne die verbond* is God se geregtigheid toenemend verstaan as sy ingrype ten gunste van Israel*, of ten gunste van die armes en verdruktes in die volk van God. So het dit al meer die konnotasie van God se genadige uitredding en liefdevolle ontferming verkry, soos nie net uit die Septuaginta* nie, maar ook uit die Qumran*-geskrifte blyk. In die Gemeentereëls van Qumran word bv van God bely: “… deur sy geregtigheid word my sonde uitgewis” (reël 11:3). God se geregtigheid val hier saam met sy genade.

In die Nuwe Testament is geregtigheid veral by Matteus* en Paulus* belangrik. In Matteus dui dit meestal op gehoorsaam­heid aan God se wil (5:6, 10), maar is ook ’n gawe van God (6:33). Volgens Matt 23:23 weeg geregtigheid saam met barmhartig­heid* en betroubaarheid vir God die swaar­ste. In Joh 16:8-10 word geregtigheid gekoppel aan Jesus* as die Een wat God se wil doen. In Jak 1:20 is geregtigheid om te doen wat God vra.

In die filosofie. In die geskiedenis van die Westerse denke het die begrip “geregtigheid” ewe-eens ’n sentrale rol gespeel. Reeds in Aristoteles se Nikomachiese etiek word ’n uitvoerige analise van die geregtigheidsbegrip gebied (hoofstuk 5). Aristoteles wys daarop dat die woord “geregtigheid” gebruik kan word om deugsaamheid in die algemeen aan te dui, maar ook kan dui op ’n heel spesifieke deug. Van vroeg af is dít wat die spesifieke deug van geregtigheid onderskei van ander deugde, verstaan as: “Aan elkeen wat hom of haar toekom” (suumcuique). Anders gestel: “Dit is billik om aan die regmatige aansprake van iemand te voldoen”. In die geskiedenis van die filosofie was daar egter sterk uiteenlopende menings oor watter kriteria aangewend moet word om te bepaal wanneer dit billik sou wees om aan iemand se aansprake te voldoen. Veral debatte oor die kriteria wat aangewend moet word in die billike verdeling van welvaart in die samelewing neig om besonder heftig te wees. Daar is diegene wat oordeel dat die beginsel van “gelykheid” die uitgangspunt behoort te wees. Die samelewing moet op so ’n wyse ingerig word dat aan almal ’n gelyke aandeel van die welvaart toebedeel word, behalwe in uitsonderingsgevalle. Veral in Westerse liberale kringe is “meriete” dikwels voorgehou as die bepalende kriterium. Diegene wat die meeste meriete het deurdat hulle harder werk en veral meer produktief en kreatief is, behoort ’n groter deel van die welvaart te kry. In veral sosialistiese (Kyk by: Sosialisme) kringe is “behoefte” as die vernaamste kriterium voorgehou. Sosialiste neem as vertrekpunt: “Van elkeen moet geneem word ooreenkomstig sy/haar vermoë, en aan elkeen moet gegee word ooreeenkomstig sy/haar behoefte”.

Vir verdere lees: Bybelgenootskap van Suid-Afrika: “Geregtigheid” (1998). Verwysingsbybel 1983-vertaling: Band 2 Naslaanmateriaal. Kaapstad; LB Smedes 1992. Mere Morality: What God Expects from Ordinary People. Grand Rapids: William B Eerdmans (bl 21-24).

 

Sidebar