GERICKE, JACOBUS STEPHANUS (KOSIE)

GERICKE, JACOBUS STEPHANUS (KOSIE) (1911–1981) is in die distrik George gebore. Ná sy legitimasie in 1937 bedien hy die NG gemeentes Uitenhage, Swellendam (1944), Stellenbosch (1946) en Stellenbosch-Sentraal tot met sy aftrede in 1977. Hy word in 1965 en weer in 1969 moderator* van die Kaapse Sinode en in 1966 van die Algemene Sinode. Hy verteenwoordig die NG Kerk* by verskeie ekumeniese* vergaderings, lewer getuienis voor die Wêreldhof in die Suidwes-Afrikasaak, en was lid en voorsitter van verskeie regerings- en kultuurkommissies. Sedert 1948 was hy lid van die Stellenbosch-Universiteitsraad en van 1953 af tot met sy oorlye visekanselier (wat geskei was van die rektorspos) van dié universiteit. Die universiteitsbiblioteek is na hom vernoem. Hy het ’n groot bydrae in die totstandkoming van die mediese fakulteit aan die US gelewer. In 1966 het US aan hom ’n ere-doktorsgraad in die teologie* toegeken. Gericke was goed bevriend met verskeie eerste ministers van Suid-Afrika en is in ’n stadium genooi om lid van die kabinet te word, ’n uitnodiging wat hy van die hand gewys het. Hy het die apartheids­beleid* van die Nasionale Party konse­kwent voorgestaan. In 1978 het hy die Deko­rasie vir Voortreflike Diens (Klas Goud), in daardie stadium die hoogste burgerlike toekenning in Suid-Afrika, ontvang.

 

Sidebar