GERONTOLOGIE

GERONTOLOGIE verwys na die wetenskap wat veral sedert die Tweede Wêreld­oorlog* ontwikkel is en wat ondersoek in­stel na die liggaamlike, psigiese, sosiale en geestelike verskynsels wat by die ouerwordende mens voorkom. Gevorderde ouderdom kan kognisie, intelligensie, persoonlikheid en gedrag beïnvloed. Die konstante teenwoordigheid van fisieke agteruitgang is kenmerkend van dié lewensfase. Alhoewel verskillende kategoriebeskrywings vir ou­derdom aangedui word en die gemiddelde aftree-ouderdom vroeër neig, kan 60 tot 65 (selfs tot 70) jaar algemeen aanvaar word as aanduiding vir aftrede geassosieer met ouderdom. As gevolg van gevorderde en verbeterde me­diese sorg, neem die lewensverwagting van die ouerwordende persoon toe. Vir baie mense sal die 25-30 jaar van dié ouderdom-lewensfase die langste van al die lewenstadia wees. Verskeie misopvattings bestaan oor ouderdom, soos dat alle bejaardes eenders en rigied in denke is en nie in staat is om verder te ontwikkel nie. Belangrike take wat tydens bejaardheid hanteer moet word, is onder meer ’n posisionering in ’n kleinerwordende wêreld van die fisiese omgewing, vriendekring en uitdagings. Verskeie verliese moet hanteer word, waaronder ’n aftakeling van liggaamlike vermoëns, gesondheid en sleutelverhoudings. Dit lei onder meer daartoe dat die ouerwordende persoon gekonfronteer word met die vraag na sin en lewensbetekenis waarin godsdiens­tige aktiwiteite ’n belangrike rol kan speel.

Vir verdere lees: A Clendenen 2000. “Unfinished Business Among the Aging and Those who Love Them” in: The Journal of Pastoral Care 54(2):121-133. D Watkins 2003. Practical Theology for Aging. Binghamton: The Haworth Pastoral Press.

Sidebar