GERUBS

GERUBS. Die term “gerub(s)” kom 90 maal in die Ou Testament* en slegs een maal (Heb 9:5) in die Nuwe Testament* voor en verwys na wesens wat sterk ooreen­kom met engele*1 en serafs*. Daar is nie ’n enkelvoudige beskrywing van die voor­koms of funksie van gerubs nie. Die be­kendste beeld is dié van ’n wese met ’n dierlike liggaam, vlerke en ’n menslike kop.

Uit ’n grafiese perspektief kan hulle in twee groot groepe verdeel word: die twee-dimensionele wesens soos hulle in tekstiele ingeweef is, en die drie-dimensionele vorms wat óf as vrystaande beelde, óf as lewende, bewegende skepsels voorgehou word. Die twee-dimensionele beelde word nou verbind met die versiering van heilige objekte en plekke soos die tabernakel* (Eks 26:1, 31; 36:8, 35) en die mure van die tempel* (1 Kon 6:29, 7:32). In die drie-dimensionele uitbeeldings word hulle dikwels uitgebeeld as oppassers of bewakers. Nadat God Adam* en Eva* uit die tuin verdryf het, plaas God gerubs aan die oostekant van die tuin om die pad na die boom van die lewe te bewaak (Gen 3:24). In ander tekste dien die vlerke van die gerubs as platform waarop God se teenwoordigheid rus (2 Sam 6:2; Ps 80:1).

Sidebar