GERWEL, GERT JOHANNES (JAKES)

GERWEL, GERT JOHANNES (JAKES) (1946–2012) was ’n invloedryke akademikus en sakeleier wat in 1994 ook die staatkundige arena betree het toe hy direkteur-generaal van die kantoor van die president van Suid-Afrika, Nelson Mandela*, geword het. Gerwel het aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die Vrije Universiteit* van Am­ster­dam studeer, waar hy sy doktorsgraad in die letterkunde magna cum laude behaal het. Ná sy studie in die buiteland het Gerwel verskillende poste beklee, eers as hoogleraar en later (1987–1994) as rektor aan die Universiteit van die Wes-Kaap wat hy geposisioneer het om ’n rol in die aftakeling van apartheid* te speel. Hy was sedert 1999 kanselier van die Rhodes-Universiteit, Grahamstad, en voorsitter van talle direksies, onder andere van die Nelson Mandela-Stigting, die Raad vir Geesteswe­ten­skap­like Navorsing (RGN), en Nas­pers waar hy voorsitter van Media24 was. Eregrade is deur verskillende universiteite in die VSA en Suid-Afri­ka aan hom toege­ken. Gerwel het verklaar dat hy as ’t ware grootgeword het met die Mar­xis­me* as ’n be­lang­rike intellektuele verwysingsraamwerk om die maatskaplike en ekonomiese wêreld te probeer verstaan, het gepraat van die “gelykheidsdroom en -strewe van sosia­lisme*” en gemeen dat die African National Congress (ANC) soos hy in 2012 daar uitgesien het, hom nie duidelik genoeg omskryf, beskryf en gedra het as ’n sosiaal-demokratiese organisasie nie.

Sidebar