GESIG (VISIOEN)

GESIG (VISIOEN) is een van die beken­de maniere (saam met drome) waarop openbarings* oor verborge, Goddelike sake in die Bybel* aan mense gegee is. Gewoon­lik sien die siener iemand of iets, en/of ’n (simboliese) gebeurtenis vind plaas. In die profetiese tekste van die Ou Testament* ontvang die siener ’n visioen wat aan die volk gebring moet word. Hierdie persone was gewoonlik uitsonderlike figure wat in God se diens gestaan het en wat onderskei moet word van vals profete* en hulle visioene (Jer 23:16). Dit is visioene van God (bv Eks 24:10), van aardse gebeure (bv Amos 7) en van voorwerpe (Sag 2:1-13 se maatlyn). In die Nuwe Testa­ment* is visioene veral in Handelinge* gegee. Petrus* ontvang ’n visioen van on­rein (Kyk by: Rein) diere as aanduiding dat hy na die heidene* moet gaan (Hand 10). Visioene kom veral in apokaliptiese* lite­ratuur voor (bv Daniël). Openba­ring* as apokalips is ’n visioen, maar anders as in die Ou Testament is dit gelaai met simboliek wat aan die fantastiese grens en is die interpretasie daarvan beperk: die sprinkane in Op 9:7-11 se bonatuurlike aard staan veral uit as dit met die sprinkane in die visioen van Joël 2 vergelyk word.

 

Sidebar