GESIN

GESIN. Histories-sosiologies gesien, is daar ’n intieme band tussen die gesin en die omgewing. In die voortdurende wissel­werking tussen die gesin en die omgewing het daar gedurende die ontwikkeling van die menslike geskiedenis verskillende ge­sins­vorms ontstaan. In sommige gemeenskappe funksioneer die sg uitgebreide gesin wat die oupas en oumas en ander familielede insluit. In ander gevalle funksioneer die kerngesin wat beperk is tot die ouers en die kinders. Gesinne word ge­vorm rondom monogame huwelike*, maar in sommige gevalle ook rondom poligame huwelike (Kyk by: Poligamie). Daar is dus ’n groot verskeidenheid van gesinsvorms.

Te midde van die historiese en eietydse verskeidenheid wat gesinsvorms betref, moet die versoeking weerstaan word om die “ideale” gesinsbeeld te skep. Terwyl die gesin ’n Goddelike gawe is, is dit ook ’n menslike skepping waarvan die presiese formasie nie deur God voorgeskryf is nie. ’n Gesin kan beskou word as ’n primêre eenheid van mense, die eerste kring van nabyheid. Hierdie kring voorsien in die basiese behoefte aan intimiteit en ook in die basiese behoefte aan sorg dra en sorg ontvang. ’n Kinderhuis kan in so ’n behoefte voorsien óf ’n kinderlose egpaar óf ’n groepie kinders wat wees gelaat is deur die dood van ouers, ens. (Kyk ook: Familie.)

Vir verdere lees: DJ Louw 1989. Gesins­verryking: Riglyne vir groei en kommunikasie. Pretoria: Academica. J Müller 2002. Gesinne van binne: Vertel die verlede en droom oor die toekoms van jou gesin. Bloemfontein: Barnabas.

Sidebar