GESINSBEPLANNING

GESINSBEPLANNING. Die alternatiewe benaming: verantwoordelike ouerskap en gesinsvorming, dui op die feit dat dit nie bloot ’n tegniese saak is nie. Die goedkoop, dikwels gratis en effektiewe voorbehoedmiddels, die sekularisme* en menslike ou­tonomie van ons tyd, seksuele promiskuï­teit*, die mediareklame van kondome, egoïsme, materialisme* en ’n soms amper kindervyandige tydsgees, lig die noodsaak van etiese* besinning uit. Vir die Skrif*gelowige* is dit duidelik dat gesinsbeplanning tuishoort binne die huweliksverband. Die huwelik* as ’n in­stelling van God is vanuit gereformeerde* en Katolieke* perspektief ’n monogame en lewenslange verbintenis en as sodanig die primêre plek vir seksuele omgang en, uit die aard van die saak, voortplanting. Dit dien tot God se eer, maar ook tot die wedersydse vervulling en volmaking van man en vrou, ook deur die seksualiteit* wat so méér is as slegs vir voortplanting. Kin­ders is egter belangrik vir die mensegeslag en vir die kerk* en daarin het die egpaar ’n groot verantwoordelikheid: nóg die minimum of geen kinders, nóg die maksimum, maar wel die optimum wat in die gesin en omstandighede moontlik is. Daarom aanvaar gelowiges in die huwelik dankbaar die metodes en middele vir gesinsbeplanning. Sterilisasie moet egter versigtig hanteer word, terwyl aborsie* vir hierdie doel on­aan­vaarbaar is. Dit gaan oor swangerskaps­voorkoming en beplanning, nie swangerskapsbeëindiging nie. (Kyk ook: Geslagsge­meenskap.)

Sidebar