GESINSTERAPIE

GESINSTERAPIE is ’n sambreelterm vir ’n verskeidenheid terapeutiese benaderings wat sedert die 1950’s opgang gemaak het. Wat hierdie benaderings met mekaar ge­meen het en onder een hoof verenig, is dat die fokuspunt in terapie van die indiwidu na die gesin* verskuif. In teenstelling met ’n intra-psigiese benadering waarvolgens die lokus van verandering in die indiwidu setel, bied gesinsterapie ’n interpersoonlike perspektief. Dit beskou die indiwidu as deel van ’n netwerk van verhoudings en sy of haar gedrag as ingebed in ’n voortgaande inter-aksionele proses. Die oorsprong van probleme word nie in ’n indiwidu en sy verlede gesoek nie, maar die terapeut konsentreer op die inter-aksiepatrone wat op daardie tydstip in die gesin voor­kom. Disfunksionele gedrag word dus gesien as die produk van ’n disfunksionele gesinsisteem of -struktuur. Daarom is die gesinsterapeut daarop ingestel om die konteks, dit wil sê die verhoudings en die inter-aksiepatrone van die gesin, waarbinne die probleemgedrag voorkom, te wysig.

Gesinsterapie verteenwoordig ’n paradigmaskuif op die gebied van terapie. Hierdie paradigmaskuif is moontlik gemaak deur die werk van ’n groep wetenskaplikes wat in die 1940’s vir ’n reeks konferensies in New York byeengekom het en waaruit die wetenskap van die kubernetiek gebore is. Kubernetiek bestudeer terugvoerkringlope en -meganismes in sisteme.

Enkele belangrike verteenwoordigers van die gesinsterapiebeweging is: Salvador Minuchin, Murray Bowen, Paul Watzlawick en die Milaangroep onder leiding van Mara Selvini-Palazzoli.

Vir verdere lees: I Goldenberg en H Gol­den­berg 1996. Family Therapy: An Over­view. Pacific Grove: Brooks/Cole. L Hoff­man 1981. Foundations of Family Therapy: A Conceptual Framework for Systems Change. New York: Basic Books. JC Müller 1996. Om tot verhaal te kom. Pretoria: RGN.

 

 

Sidebar