GESLAGSGELYKHEID

GESLAGSGELYKHEID. Die vraagstuk van die gelykheid van die (manlike en vrou­like) geslagte het eers sedert die 19de eeu, maar veral sedert die opkoms van die feminisme* in die middel van die 20ste eeu, deel van die openbare gesprek geword. Die grondliggende vraag is of die biologiese verskille tussen mans en vroue saam­hang met ’n wesenlike ongelykheid van die geslagte, en of dit vervolgens aanleiding gee tot ’n vaste verdeling van manlike en vroulike geslagsrolle. In die meeste pre-moderne samelewings is die ongelykheid van die geslagte grootliks as vanselfspre­kend aanvaar en is sosiale verhoudings oor die algemeen gekenmerk deur patriargie (Kyk by: Patriargale stelsel), of die manlike oorheersing van die vrou*. Slegs in enkele gevalle kan voorbeelde uit pre-moderne samelewings aangetoon word waar ’n mate van geslagsgelykheid geheers het, of waar matriargie, of die vroulike oorheersing van die man, die dominante patroon was. Die opkoms van Westerse ka­pitalisme* het die effek van die ongelyke behandeling van vroue verskerp, deurdat die huis al minder as basis van ekonomiese aktiwiteit gedien het en al meer gesien is as die plek waartoe die sosiale rol van die vrou beperk is. Verhoogde toegang van vroue tot hoër onderwys en (aanvanklik beperkte) politieke medeseggenskap het die weerstand teen patriargie en die geïnstitusionaliseerde ongelykheid versterk en aanleiding gegee tot ’n al sterker wordende aandrang op gelyke behandeling. In die Christelike kerke* wissel die standpunte oor geslagsgelykheid van ’n beklemtoning van die sg skeppingsmatige (en Goddelik gesanksioneerde) geslagsdifferensiasie en meerdere status van die man aan die een kant, tot die beklemtoning van die prinsipiële gelykheid van die geslagte kragtens die skepping van sowel die man as die vrou na die beeld* van God en die transendering van geslagsverskille in Chris­tus* aan die ander kant.

In Suid-Afrika is die afgelope jare groot vordering gemaak met die gelykberegtiging van vroue, veral ook op politieke terrein waar amper die helfte van die Kabinet in 2015 vroue was. In die sake- en akademiese wêreld speel vroue ’n al hoe prominenter rol.

Kerke word ook gekonfronteer met kwessies soos die toegang van vroue tot kerklike ampstrukture en die gebruik van inklusiewe taal in kerklike en godsdienstige tekste. In die grootste kerk op aarde, die Katolieke Kerk*, is daar nog weinig aanduidings dat die vrou toegelaat sal word om priester of biskop te word, terwyl in die Anglikaanse Kerk* die vrou eers in 2014 toegelaat is om ook biskop te word. In sommige gereformeerde* kerke word vroue tot al die ampte (predikant, ouderling, diaken) toegelaat, terwyl dit in ander (soos bv die Geref Kerke in SA*) nie dit geval is nie.

 

Sidebar