GESTICHT (GESTIG) OF OEFENINGS­HUIS

GESTICHT (GESTIG) OF OEFENINGS­HUIS is die benaming wat vroeër vir bruin­mense of sendinggenootskappe* se kerke/aanbiddingsplekke gebruik is. Dit is ook geassosieer met geestelike bearbeiding deur ongeordende leraars*. Die oudste en bekendste van dié inrigtings is die Lang­straatse Sendinggestig in Kaapstad wat voortgevloei het uit die stigting in 1799 van Het ZuidAfrikaansch Genootschap van de Kaap de Goede Hoop tot bevordering en uitbreiding van Christus Ryk. Die oogmerk van dié genootskap was om “kleurlingen” (Khoekhoen*, vry swartes en later vryge­stelde slawe*) met die evangelie* bekend te maak, asook om godsdiensoefeninge en gebedsbyeenkomste te hou en godsdiens­onderrig te gee. Die sierlike Sendinggestig met vermenging van die Barok en neo-Klassieke style, is teen 1804 opgerig. Die be­trokke gemeente* het in die jare 1975–1978 na Belhar verskuif en die gebou word tans as sending- en slawemuseum benut.

Het Gesticht is in 1813 in die Drakenstein (Paarl) opgerig. In September 1820 is die kerkgebou van die NG Sendinggemeente Wagenmakersvallei (Wellington) – waarna aanvanklik verwys is as Gesticht of Oefe­nings­huis – ook deur die inisiatief van die plaaslike Sendinggenootskap ingewy. ’n Vier­de nog bestaande sendingkleinood is die Oefeningshuis op Swellendam wat uit 1838 dateer en uniek is vanweë afbeeldings van horlosies op die sygewels. Die wysters hiervan dui klaarblyklik op die destydse aanvangstye van godsdiensoefeninge.

Al vier die betrokke geboue is tot nasionale gedenkwaardighede (tans provinsiale erfenisterreine) verklaar.

Vir verdere lees: JJ Oberholster (red) 1972. Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn.

Sidebar