GETUIG, GETUIE, GETUIENIS

GETUIG, GETUIE, GETUIENIS. Dié woorde word in die Ou Testament* hoofsaaklik forensies gebruik. ’n Getuie is ie­mand wat persoonlik by ’n bepaalde ge­beurtenis teenwoordig moes gewees het en daarom kennis gedra het van die feite waar­oor dit gaan. ’n Ooggetuie moes tydens die ondersoek­proses geloofwaardig wees. Die wet* van Moses* vereis dat ge­tuies teenwoordig moes wees by alle sake wat voor ’n regter* gedien het. Oorgetuies kon wel toegelaat word solank die saak waaroor dit handel, nie van ’n kriminele aard was nie. Minstens twee getuies was no­dig in alle regsake, veral in kriminele sake (Num 35:30; Deut 19:15), en hulle was die eerstes om die vonnis te voltrek ná skuldigbevinding (Deut 17:7; 1 Kon 21:13). Daar is nie vereis dat getuies onder eed moes ge­tuig nie. Vals getuies kon gestraf word (Deut 19:16-21) en die Tien Gebooie* verbied vals getuienis. Dit was ook ’n oortreding om te weier om getuienis te lewer (Lev 5:1). Be­paalde vereistes vir ’n getuie het meegebring dat persone met vooroordele en twyfelagtige karakter nie as getuies gekwa­lifiseer het nie. Getuies is ook afsonderlik ondervra en as getuies mekaar weerspreek het, was sodanige getuienis ongeldig.

In die Nuwe Testament* kom die begrip­pe ook dikwels voor, veral in Lukas* en Han­delinge*. Dit word steeds forensies ge­bruik (Matt 18:16; Mark 14:63; Hand 6:13; 7:57-59; 2 Kor 13:1; 1 Tim 5:19), maar ook dikwels konfessioneel wanneer die boodskap oor Jesus* Christus* verkondig word deur geloofwaardige getuies (Luk 24:48; Joh 8:17-18; Hand 1:8, 22-26; 26:16; Rom 8:16; 1 Joh 5:6; 1 Pet 5:1). Hierdie getuienis is aan God verbind (Heb 2:4). Paulus* beroep hom dikwels op God self as Getuie (Rom 1:9; 2 Kor 1:23; Fil 1:8; 1 Tess 2:5), en Jesus is die “geloofwaardige getuie” in Op 1:5; 3:14. In Hand 22:20 en Op 2:13; 17:6 begin “ge­tuie” geleidelik die betekenis van “martelaar” aan te neem.

Sidebar