GEVOELSGODSDIENS

GEVOELSGODSDIENS plaas groot klem op bekering*, die innerlike belewing van die geloof* en ’n bevindelike vroom­heid as vrug van die wedergeboorte*. In ’n sekere sin is dit ’n korreksie op die intellektualistiese en dogmatiese verstaan van die Christelike geloof* sedert die Hervorming*. In Engeland, onder invloed van die puriteine*, het daar reeds vroeg in die 17de eeu ’n diepgaande breuk met die Anglikaanse Kerk* ontstaan. ’n Wettiese lewenspraktyk wat uiteindelik tot wêreldvermyding gelei het, het weldra beslag gekry. Veral William Whitaker (1548–1595) en William Perkins (1558–1602) het leidende rolle in die vesti­ging van hierdie sentiment gespeel. Hierdie gedagtes is toe deur Willem Teelink (1579–1629) na Nederland gebring. Hy het bekend geraak vir sy strenge Sondagviering en die mistieke (Kyk by: Mistiek) omgang van die siel* met God wat deur die sg stygende trappe in die geestelike lewe aangedui word. In hierdie gees het Willem á Brakel* ook sy welbekende geskrif, die Redelike godsdiens (1700), die lig laat sien. Dit was veral Adolf Lampe (1683–1729) wat hierdie tipe gevoelsgodsdiens na Duitsland ge­neem het, terwyl Philipp Spener* (1635–1705) die vader van die piëtisme* in Duits­land genoem kan word. Uit hierdie tradisie het die Herrnhutters na vore gekom wat wêreldwyd groot invloed gehad het.

 

Sidebar