GIBSON, MEL COLUMCILLE GERARD

GIBSON, MEL COLUMCILLE GERARD (1956–) is in New York, VSA, gebore. Hy is die sesde van elf kinders en ’n Katoliek*. In 1968 emigreer die gesin na Australië. Gibson studeer drama aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis, word ’n befaamde (dog ook omstrede) filmster en ontvang in 1997 Australië se hoogste eerbewys, “Officer of the Order of Australia”. Van die bekendste films waarby hy betrokke was, is: The Year of Living Dangerously, Forever Young, The Patriot, Braveheart en The Passion of the Christ. Van laasgenoemde drie was hy ook die regisseur. Vir Braveheart ontvang hy in 1996 Oscar-toekennings vir Beste Film asook Beste Regisseur.

The Passion of the Christ was Gibson se lewensdroom. Toe nie een van die groot filmhuise die film wou maak nie, finansier hy dit met $25,3 miljoen. Die doemprofete is verkeerd bewys. Die film was ’n lokettreffer met ’n inkomste van $600 miljoen. Die film is gewelddadig (kritici meen oordrewe so) en gebruik veral Aramees* en Latyn as spreektale met Engelse onderskrifte. Dit het die lydensverhaal van Jesus* Christus* met skoktaktiek wêreldwyd onder die aandag gebring, en onder Jode* ’n be­roering veroorsaak oor die “anti-Semi­tiese” manier waarop die Jode se verwerping van Jesus uitgebeeld word. (Kyk ook by: Films en godsdiens.)

Sidebar