GIDEONS

GIDEONS. In die najaar van 1898 het twee reisigers, vreemdelinge vir mekaar, vir die eerste keer in ’n hotel in Wisconsin, VSA, ontmoet. Toe hulle agterkom dat hulle albei Christene* was, het hulle saam aandgodsdiens gehou. Hulle het ’n vereniging vir Christenreisigers gestig. By ’n volgende vergadering het drie Christenreisigers die naam “Gideons” gekies na aanleiding van die verhaal in Rig 6–7.

Die Gideons is lidmate uit verskillende evangeliese* kerke, Christensake- en professionele persone met ’n lewende getuienis vir die Here*. Die hoofdoel van die Gideons is om mense vir die Here te wen. ’n Doel­tref­fende metode is die verspreiding van die Woord* van God.

Die Gideons beywer hulle om die Bybel* so wyd as moontlik te versprei en die uit­lewing van die Woord aan te moedig. Hulle plaas Bybels* of Nuwe Testamente* met Psalms* gratis in die kamers van hotelle, mo­telle en ander openbare plekke soos hospitale. Die Nuwe Testament en Psalms word ook aan skoliere, verpleegsters en aan ander beskikbaar gestel. Die tempo waarteen die Nuwe Testament tans wêreldwyd ge­plaas word, is na raming 1 miljoen kopieë elke sewe dae. Sedert 1898 staan die totale verspreidingsyfer op nagenoeg 1 164 600 000 in sowat 85 tale.

Teen 2015 het nagenoeg 2 800 persone in Suid-Afri­ka aan die Gideons behoort, terwyl die wê­reld­lidmaatskap op bykans 165 000 in 180 “Gideon-lande” gestaan het.

Sidebar